Ervaar die lewe saam!
“God het julle immers geroep om as lede van een liggaam
in vrede met mekaar te lewe.” – Kol. 3:15.
“Hoe goed, hoe mooi is dit om as broers eensgesind
saam te woon.” – Psalm 133:1.
Ons is bedoel om die lewe te deel met ander.
God wil hê ons moet die lewe saam ervaar.
Die Bybel noem dit gemeenskap.
Gemeenskap is nie net ‘n toevallige gesprek of sosialisering nie.
Gemeenskap is ook nie net om erediens toe te gaan en te gesels nie.
Ware gemeenskap is om die lewe saam te ervaar!
Om die lewe saam te ervaar sluit die “mekaar” tekste van die Bybel in.
Dit beteken onselfsugtige liefde, praktiese diens,
opofferende gawes, empatiese vertroosting, opregte bemoediging…..
Daarom is dit wonderlik om deel te wees van ‘n geloofsgemeenskap groep.
Dikwels is kleiner hier meer waardevol. Jy kan in ‘n skare aanbid,
maar gemeenskap word in kleiner groepies meer intiem beleef.
Gemeenskap gebeur wanneer mense in ‘n kleiner konteks
met mekaar kan deel wat in hulle lewens gebeur.
Met ware gemeenskap ervaar mense egtheid.
Met ware gemeenskap ervaar mense gemeenskaplikheid.
Die lede dra gelyke sorg vir mekaar.
Ons bou onderlinge verhoudings, deel verantwoordelikhede,
help mekaar en dra mekaar se laste.
Ons loop saam en moedig mekaar aan.
Die Nuwe Testament sê meer as vyftig keer ons moet “vir mekaar” dinge doen
Ware gemeenskap is ook meelewend. Jy deel mekaar se pyn en vreugde.
“Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig,
sagmoedig en verdraagsaam wees.” – Kol. 3:12.
Ervaar die lewe saam met medegelowiges in die geloofsgemeenskap!
Ernest