Gemeenskap van gelowiges is ‘n plek van genade.
In die geloofsgemeenskap vryf ons nie foute in nie.
Genade kry die oorhand oor veroordeling.
Ons het almal genade nodig. Ons almal val en struikel.
Ons moet regtig aan mekaar genade betoon,
en ook gewillig wees om dit van mekaar te ontvang.
“Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig,
anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor.”
2 Kor. 2:7.
Daar kan geen egte geloofsgemeenskap wees sonder vergifnis nie.
Ons maak mekaar doelbewus en onbewustelik seer.
Maar dit kos telkens veel genade van ons almal,
aan mekaar, ter wille van die geloofsgemeenskap, en God se eer.
Die Woord se so treffend in Kol. 3:13:
“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets
teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het,
moet julle mekaar ook vergewe.”
God se genade aan ons is die motivering….
om ons genade aan ander te betoon.
Jy sal nooit gevra word om iemand anders meer te vergewe,
as wat God jou vergewe het nie.
Baie mense is traag om genade te betoon,
want hulle verstaan nie die verskil tussen vertroue en vergifnis nie.
Vergifnis is om die verlede los te laat.
Vertroue het met toekomstige gedrag te doen.
Vergifnis moet so gou as moontlik plaasvind, indien nie gouer nie!
Vergifnis moet ook doelbewus van jou af kom,
of die persoon daarvoor vra of nie!
Vertroue word egter mettertyd weer herbou.
Vertroue het ‘n rekord nodig.
Wanneer iemand jou gedurig seermaak,
vra God van jou om daardie persoon te vergewe.
Daar word nie van jou verwag om die persoon onmiddelik te vertrou nie.
En daar word ook nie van jou verwag dat jy moet toelaat
dat die persoon jou bly seermaak nie.
Die persoon moet bewys dat hy of sy verander het,
en aktief help herbou aan opregtheid en vertroue.
Kom ons deel God se genade met mekaar,
deur vergifnis,
en deur die bou van vertroue in mekaar.
Ernest