Die Here Jesus sê in Matteus 7:24-26:
“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel,
kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.
Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk,
en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.
En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie,
kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.”
Bou jy jou lewe op rots of op sand?
Dit is die twee soorte mense wat Jesus hier onderskei,
ten opsigte van sy woorde, en gehoorsaamheid daaraan.
Jy bou op rots of op sand. Jy is verstandig, of dwaas.
Jy dink soos ‘n volwasse mens oor jou verhouding met die Here,
en jou gehoorsaamheid aan sy woorde, en jou ewige bestemming.
Of jy speel soos kinders op sand en in die vlak branders van die lewe.
Een ding is seker, volgens hierdie woorde van die Here:
Ons word verseker in hierdie lewe blootgestel aan storms van die lewe.
En dit kan skrikwekkende lewensstorms wees.
Hierdie storms kan van alle kante af kom.
Stortreën van bo, vloedwaters van onder, rukwinde van alle kante.
Die lewe kan en sal jou rond en bont pluk.
Beproewings, lyding, skokke, versoekings, ontnugtering, teleurstelling,….
Ons leef in die realiteit van menslike gebrokenheid en sonde.
Wat gaan hierdie lewensstorms met jou geestelike huis doen?
Gaan dit bly staan, of soos ‘n kaartehuis ineenstort en val?
Ons kan en moet op die fondament van rots leef!
Waarmee kan ons daarop bou?
Ons bou met die Woord van God en gebed.
Wat is ons werkswyse?
Ons werkswyse is gehoorsaamheid en volharding.
Wat is ons gesindheid?
Ons gesindheid is dankbaarheid, liefde, en oorgawe aan die Here.
Wat is die rots waarop ons bou?
Ons bou op die Rots self, op Jesus Christus!
Hoe bou jy jou lewe?
Bou jy op die Rots Jesus Christus,
of bou jy sandkasteel op die strand.
Hoe jy bou, gaan bepaal wat in die groot lewensstorms gebeur….
Ernest