Die Fariseërs het gevra :
“Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”
Met ander woorde: wat op dees aarde het Hy met daardie soort mense te doen?
Toe antwoord die Here Jesus op ‘n wyse wat gebroke en geknakte mense
tot vandag toe nog hoop gee! Matteus 9:12-13:
“Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.
Gaan leer wat dit beteken: “Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”
Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Dit is hoe Jesus dink en praat oor mense wat foute gemaak het,
en misluk het, en geval het. Dit is Jesus se gesindheid teenoor sondaars.
En nou weet ons mos dit sluit ons almal in!
Elkeen van ons wat voel of jy al die sóveelste keer op die lewenspad geval het.
Jesus se genade is vir elke mens!
Maak nie saak of jy al hoeveel keer vir God, jou naaste, en jouself gefaal het nie.

Maar Jesus praat ook hier met mense wat dink hulle het dit nie nodig nie.
Mense wat dit nie prontuit sal sê nie, maar wat dink hulle is beter as ander.
Mense met hoogmoedige veroordelende harte.
Hy spreek juis ook vir hulle aan wat nie van “daardie soort mense” hou nie.
Hy stuur hulle weg om te gaan selfondersoek doen:
Gaan…! “Gaan leer wat dit beteken: “Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”

Jesus sê hiermee dat Hy na mense se harte kyk.
Hy soek ‘n nuwe gesindheid by ons, nie ons offers nie, maar opregte harte.
Uiteindelik kan ons almal terugkeer na Hom toe.
Ook ek met my veroordelende hart wat ontdek het hoe siek my gees is.
Almal kan terugkeer na die Groot Geneesheer.
Terugkeer om gesond te word!

Ernest