Ons kan nie die evangelie van Jesus Christus maar net
‘n deel van ons lewe maak nie.
Jesus gebruik hiervoor die treffende beeld in Matteus 9:16:
“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie,
want die nuwe lap skeur die klere nog verder en die gat word net groter.
‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie.
As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen.
Nee, ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke, en so behou jy altwee.”

Die evangelie van Jesus Christus is nie soos ‘n stukkie donkerblou
denim materiaal op ‘n stokou denim verweerde kledingstuk nie.
Dit is nie soos nuwe gistende wyn in stokou velsakke,
sonder enige elastisiteit nie.

Die Bybel sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.” – 2 Kor. 5:17.
Ons is om een of ander rede nie altyd opgewonde oor hierdie nuwe nie.
Dit is eintlik onverstaanbaar dat ons nog wil vasklou aan die oue.
Baie van ons verkies lapwerk. Ons wil die ou lewe net so hier en daar lap.
Ons wil nie alles gee wat Christus vra nie.
Jou hele lewe onvoorwaardelik!
Die Here wil al die vodde van die ou lewe wegneem,
soos ou klere inmekaar bondel, in ‘n vuilgoedsak stop, en wegsmyt.
Hy wil dit nie in ‘n wasgoedsak gooi, om gewas en later gelap te word nie.

Ons wil ook die dinamies groeiende evangelie in ou wynsakke gooi,
wat nie meer kan rek nie! Ons hou vas aan die ou lewe,
maar wil die nuwe lewe daarin giet.
Dan gaan natuurlik beide verlore! Die oue en die nuwe.
Die ou sak bars en is tot nuut. En die nuwe wyn daarmee saam!
“Nee!”, sê Jesus, “‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke,
en so behou jy altwee.”

Die woorde van Jesus doen altyd iets aan ons.
Dit maak die wat dit ter harte neem inderdaad nuut.
Leef die nuwe lewe!
Moenie die evangelie op jou ou lewe probeer lap nie.
Moenie die nuwe lewe in ‘n ou sak giet nie.
Die oue is verby!
Die nuwe het gekom!

Ernest