“Laat julle lig so voor die mense skyn,
dat hulle julle goeie werke kan sien.” – Matteus 5:16.
Die beste manier om jou lig te laat skyn is om lief te hê.
Om God bo alles lief te hê, en jou naaste soos jouself.
Daar is sestien verwysings in die Nuwe Testament,
wat sê ons moet ons naaste liefhê, niemand kwaad aandoen nie,
ons naaste gelukkig maak, en altyd die waarheid met ons naaste praat.

Ons kan mekaar dikwels eerder verskeur as omhels.
Dit laat ons dink aan ‘n vrou wat vir Churchill gesê het:
“If you were my husband, I would give you poison!”
Waarop Churchill geantwoord het:
“If you were my wife, I would gladly drink it!”
Geen wonder dat Jonathan Swift in “Gulliver’s Travels” skryf:
“Ons het dikwels net genoeg liefde om mekaar te haat,
nie genoeg om mekaar regtig lief te hê nie.”
Dit veroorsaak dat ons lig nie skyn nie, of baie flou skyn.

Om ons lig te laat skyn moet ons onthou wat in Efesiërs 5:1 staan:
“Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet,
moet julle sy voorbeeld volg.”
Dit is presies wat 1 Johannes 2:6 beklemtoon:
“Wie beweer dat hy in Hom bly,
behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”
3 Johannes vers 11 stel dit nog sterker:
“Moenie die verkeerde voorbeeld volg nie, volg die goeie.
Wie goeddoen, behoort aan God; wie verkeerd doen,
het nie vir God gesien nie.”

President Calvin Coolidge van die VSA,
het eenkeer mense na die Withuis genooi.
Hulle het nie geweet wat om te verwag nie,
en besluit om net te doen wat hy doen.
Coolidge het sy koffie in sy piering gegooi,
en hulle het dit ook gedoen!
Hy het melk en suiker in die piering gegooi,
en hulle het dit ook gedoen,
al was hulle erg ongemaklik daarmee.
Hulle was seker hy gaan nou uit die piering opslurp!
Maar hy het afgebuk en die piering op die vloer gesit,
vir sy kat om te drink!
Moenie enige voorbeeld volg nie,
anders kan jy ‘n aap van jou self maak!
3 Johannes vers 11 sê;
ons moenie die verkeerde voorbeeld volg nie,
….al is dit die president se voorbeeld.
Vers 11 sê ons moet die goeie voorbeeld volg.

Ons is Christus se verteenwoordigers hier op aarde.
Ons tree namens Christus op.
Die lig wat ons uitstraal, moet die lig van die Here wees,
wat ons weerkaats! Die liefde van die Here!
Daarom volg ons sý voorbeeld!

Ernest