“Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou.
Die kosbare besitting wat werklik kan help, is wysheid en kennis;
die rykdom waarop Sion hom kan verlaat, is die diens van die Here.”
Hierdie profesie rig Jesaja tot sy volk in Jesaja 33:6.
Sy volk se situasie is haglik. Klink dit bekend?
Polities en internasionaal is hulle teen die grond.
Na die ontsaglike skade wat sy volk gely het, nadat hulle alles verloor het,
spreek Jesaja hierdie profetiese woord tot die verarmde volk.
Die paaie lê verlate. Die Saron vlakte lyk soos ‘n woestynvlakte.
Op Basan en Karmel staan die bome kaal.
Geen mens is ontsien nie….
Nou sê Jesaja vir die volk:
God is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou.
Dit waarop die volk vertrou het, dit wat hulle as skatte geag het,
was geen skatte nie! Ware skatte is baie skaars.
Die enigste blywende skatte is:
God self: Hy is die God op wie mense hulle lewe lank kan vertrou.
Hy kan nie geroof of gebuit word,
soos wat met hul “skatte” gebeur het nie.
Hy is ewig, onveranderlik, en betroubaar.
Wysheid en kennis: hoe nodig het mense dit nie?
Wanneer mense in slegte tye leef, nog meer!
Wysheid wat van Bo kom.
Hoe nodig is dit nie om kennis van God en van sy wil te hê nie.
Jou roeping om die Here te dien:
Om die Here te dien is die kosbaarste skat van almal!
Hulle wat dit doen, beleef sy liefdevolle teenwoordigheid.
Meer as dit, hulle leef daaruit!
Hulle leer sy wil daagliks beter ken.
Hulle weet verseker dat Hy die lewende God is.
Hulle is beelddraers en verteenwoordigers van God.
Hulle gees en gedagtes word nuut.
Hulle word deel van God se familie,
en het nuwe rede om voluit te leef.
Ware skatte is baie skaars.
Ewigheid-skatte nog meer skaars.
Maar die Een wat Hom láát vind, deur hulle wie Hom soek,
is die kosbaarste van almal!
God self!
Ernest