Elke mens kan en moet verander

God het soveel persoonlikhede so wonderbaarlik geskep.
Sielkundiges en kwasi-sielkundiges en beraders deel ons op.
Daar is soveel persoonlikheidstipes.
Maar God het alle persoonlikheidstipes geskep.
Die probleem lê nie by watter tipe persoon ek is nie.
Die probleem lê daarin dat die Bose alle persoonlikheidstipes kom vermink het.
En hoe groter die verminking, hoe heftiger verdedig ons dit wat ons doen.
“Ek is nou maar so….”. “Ek is nou maar kort van draad….”
“Ek is nou maar ‘n ongeduldige mens.”
Dit is juis wie jy dink jy nou maar is,
wat die Heilige Gees wil kom verander!

Paulus wys ons in Titus 3:3 hoe ons as verminkte persoonlikhede lyk.
Maak nie saak watter persoonlikheidstipe jy is nie.
“Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam,
op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot;
ons het ons lewens in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring;
ons was haatlik en het mekaar gehaat.”

Die Woord van God verseker ons dat ons nie so hoef te bly nie.
Dat ons inderdaad moet verander.
Die Heilige Gees wil elke beskadigde mens aanraak en totaal nuut maak.
Hy wil ons wonde heel maak en ons die wonder van die ware nuwe lewe gee.
Ons word so mense, met al ons verskillende persoonlikhede,
wat jubel oor en leef in die lig en waarheid!

Elke soort persoonlikheid word deur die Heilige Gees nuut gemaak,
om te wees wat God met daardie persoonlikheid bedoel het!
Elke soort persoonlikheid kan vervulling met die Heilige Gees beleef.
Vervulling deur die Gees met ‘n liefde wat voorheen ongekend was,
en ‘n vrede wat voorheen ondenkbaar was.
Die krag van die Heilige Gees deurstroom elke persoonlikheidstipe.
Hoe uiteenlopend ons persoonlikhede ookal mag wees,
ons kry almal deel aan die gesindheid van Jesus Christus.
Ons behoort nie langer aan onsself nie.
Ons is nie langer die slawe van sonde,
wat ons persoonlikhede wil vermink nie.
Christus leef nou in ons!

Ernest