Moenie weldade weerhou nie
Spreuke 3:27-28:
“Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,
terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.
Moenie vir iemand sê: “Gaan eers terug en kom môre weer,
dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.”
Waarom sou ek ‘n weldaad terughou van iemand, aan wie dit toekom,
terwyl dit in my mag is om dit te bewys?
Is dit omdat ek in vooroordeel besluit of die persoon dit “verdien”, of nie?
Is dit moontlik omdat ek inhaling is, geldgierig?
Is dit omdat my gesindheid teenoor ander mense nie reg is nie?
Waarom sou ek vir iemand sê: “Kom môre terug dan help ek jou”?
Omdat ek hoop iemand anders sal hom intussen help?
Omdat ek eenvoudig nie wil help nie?
Omdat eiebelang my lewe oorheers?
Omdat ek nog nie geleer het om aan ander te doen,
soos ek wil hê hulle aan my moet doen nie?
Ons word met die Bybelse opdrag van
mededeelsaamheid en goedgesindheid gekonfronteer.
Ons vind dit baie moeilik.
Ons deel nie graag ons leefruimte en wat ons het met ander nie.
Dit kos baie gebed en die prysgee van eiebelang,
om te leef soos wat die Here hier van ons vra.
Om met mededeelsaamheid en goedgesindheid vervul te bly.
Om die gesindheid van Christus te bly openbaar.
Slegs wanneer ek my lewe ten volle aan God opdra,
sal ek genoeg liefde hê,
om volhoubaar mededeelsaam en goedgesind
teenoor my medemens te leef.
Ernest