Vertrou die Here, nie eie insigte

“Vertrou volkome op die Here,
en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.”
Spreuke 3:5 sê dit.
Hoe meer ons op die Here vertrou,
hoe meer sal ons ook groei in insig.
Maar ons moenie op eie insigte staatmaak nie.

Ons leef in die era van ontelbare standpunte.
Elke ou het sy “reg” om te dink soos hy wil.
Ons sê soos die mense van Laodisea in Openbaring 3:17:
“Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie.”
Ons dink dit ook ten opsigte van wat ons “weet”…
Ons is selfvergenoegd en selfsugtig.
Ons kén die lewe. Ons weet alles. Ons ken geleenthede.

Ons kan egter maar net rondom ons kyk,
om te sien waar ons eie insigte ons gebring het.
Hoe anders sou alles in die lewe daar uitgesien het,
as ons hierdie riglyne onlosmaaklik deel van ons lewe maak:

Om eers afhanklik te bid en dan te besluit.
Dan vertrou ons volkome op die Here en nie op eie insigte nie.
Om eers met God daaroor te praat, en seker te maak dat dit sy wil is,
en dan eers op te tree. Sy Woord sê tog:
Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Niemend van ons is altyd reg nie, en daarom tree niemand altyd reg op nie.
Die Woord sê tog ons het nie alle wysheid in pag nie.
Dien die Here in jou binnekamer, maar ook daarbuite.
In jou hart, maar ook in jou saamwees met alle mense.
Draai betyds weg van enige iets wat nie heilsaam is nie.
Die Woord sê ons moet vermy wat sleg is.
Leef met lof, eer, en danksegging aan die Here.
Met toewyding van jouself, en alles wat jy het, aan Hom.

Ernest