Is dit erg om ‘n Christen ete wees?
Daar is mense wat dit so sien en beleef.
Hulle dink dit is moeilik omdat die wêreld teen jou draai.

Iemand het die beeld gebruik van ouers wat met hul klein
kindertjies gaan stap op ‘n staproete of voetslaanpad.
Die pa stap voor en die kinders stap agterna.
Die ma stap agter en dek die agterhoede.
Die roete is nie vir die kinders maklik nie.
Hulle bene is korter en hulle moet verder rek,
om oor stroompies of klippe te trap. Dit kos inspanning.
Hulle is dikwels stokflou, rooi in die gesig, honger, dors, moedeloos.
Op presies die regte plekke gee die ouers vir die kinders iets om te drink,
of te eet. Gereeld word sonbrand room aangesmeer. En aangemoedig.
Hulle hou die kinders vas by gevaarlike skeure, en help hulle oor groot rotse.
Saans maak hulle die kinders toe en deur die nag waak hulle oor hulle.

Op die roete moet die kinders baie leer:
Oor volharding, mededeelsaamheid, sorg vir mekaar, swaarkry,
vertroue, liefde en gehoorsaamheid.
En tóg is hulle vry! Tog is hulle geborge!
Gelukkig en seker van die liefde van hulle ouers.
Ouers wat hulle met die grootste liefde, en sorg,
en voorsiening op die onbekende roete lei, tree vir tree.

So is dit om ‘n Christen te wees.
Jy is ‘n kind van God jou Vader.
Gelowiges lewe soos kinders op die wandelpad.
Ons Vader by ons. Ons koers vas en seker.
‘n Ondervinding, avontuur, en lewe vol leerervarings.
Vryheid en ‘n heerlike bestemming gewaarborg!

Romeine 8:37:
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars,
deur Hom wat vir ons liefhet.”

Ernest