Voordat jy trou vra jy jouself af:
Met wie trou ek regtig?
Met wie gaan ek hierdie lewenslange verbintenis aan?
Sien ek kans vir ‘n 24/7 en 365 dae van die jaar verbintenis?
Jesus het ook ‘n verbintenis aangegaan met die 12 manne
wat sy naaste volgelinge sou word.
Hulle was bestem om vir die wêreld te gaan vertel dat
die Seun van God aarde toe gekom het om die hart
van die Vader aan die mensdom te kom toon,
en om die mag van die Bose te verbreek.
En omdat die verbintenis tussen die Seun van God
en hierdie 12 dissipels so heg was,
en hulle toekomstige taak soveel integriteit en sekerheid sou vereis,
het Jesus in Matteus 16:15-16 vir sy 12 naaste dissipels gevra:
“Maar julle, wie sê julle, is Ek?”
En Simon Petrus het geantwoord:
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Hierdie getuienis aangaande Christus sou die sentrale rots wees
waarheen Simon Petrus altyd weer sou terugkeer.
So het Simon Petrus vir Jesus Christus leer ken.
Paulus weet ook dat God met hom op die pad
na Damaskus ‘n verbintenis aangegaan het.
En hy sê wie God vir hom is.
Sy getuienis uit Romeine 11:33-36 is nie uit ander geskrifte gehaal nie.
Die God van Abraham, Josef, Dawid, Petrus en Paulus en al die gelowiges,
neem die inisiatief om met my ‘n persoonlike verbintenis aan te gaan.
Die verbintenis is sterker en blywender as enige ander verbintenis ooit!
Soos almal voor my, het ek ook die vraag om te beantwoord.
Wie en wat het ek persoonlik in God gevind?
Wie is God vir mý? Persoonlik?
Ernest