1 Petrus 5:8 sê ons moet versigtig wees,
en pas op vir die duiwel se aanvalle, hy is die groot vyand.
Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
Vers 9 sê dan: “Hóm moet julle teenstaan,
deur standvastig in julle geloof te bly.
Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God
se gesin dieselfde soort lyding.”

Dit maak nie saak hoe lank jy al in die geloof lewe nie,
en dit maak nie saak hoeveel jy al daaroor geleer het nie,
jy kan nog steeds terugslae ondervind.
Dinge werk anders uit as wat jy as kind van die Here verwag het.
Onthou dat die terugslae tydelik is!
Want vers 10 sê verder: “Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het,
sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.”

Jy kan volgens al jou kennis, en geloof, en die waarheid in die Here se wil leef,
en nie verstaan hoekom dinge skeefloop nie.
Dit is wat met Dawid gebeur het in 2 Sam. 21:1-6.
Daar was iets wat hy nie geweet het nie.
Hy het vir God om meer wysheid gaan vra. Hy het nie opgegee nie.
Sy land is drie jaar lank deur hongersnood geteister. Hy verstaan nie.
Hy het na God toe gegaan en Hom geraadpleeg.
God sê die hongersnood is oor iets wat Saul gedoen het!
Dit is verstommend, en laat ons dink hoe ons eie land ly oor meerdere redes.
Wat Saul nog voor sy dood gedoen het, het nog steeds ‘n effek op sy land…
Ons sonde het effek op mekaar, gee as’t ware af op mekaar…

Dawid kon net sowel moed opgegee het,
toe sy gebede en belydenisse “onbeantwoord” gebly het.
Maar hy het nie. Hy gaan vra God vir méér wysheid.
Hy bly teruggaan na God toe. Hy gee nie op nie.
Hy gebruik sy tydelike terugslae,
om nog meer kennis en wysheid by God te kry.

Volg Dawid se voorbeeld. Moenie tou opgooi nie.
Bly teruggaan na God, want vers 10 van 1 Pet. 5 sê:
“… Hy sal jou self weer herstel; Hy sal jou moedig,
sterk en standvastig maak.”
Jou oorwinning is gewaarborg, want, volgens vers 11:
“Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.”

Ernest