Psalm 1:1-2 sê hierdie baie belangrike woorde:
“Dit gaan goed met die mens….
wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.”
Vind jy dit soms moeilik om God se Woord te glo?
Om nie net met jou verstand daarmee saam te stem nie,
maar regtig te glo dat wat daar staan vir jou bedoel is. Regtig!
Tye wat die beloftes in God se Woord jou verstand laat duisel.
Tye wat dit vir jou moeilik is om te glo…
dat jy meer as ‘n oorwinnaar is, al sê God so.
Wat doen jy dan? Wanneer dit so moeilik is om te glo?
Oordink daardie woorde en beloftes van God dag en nag!
Bybelse oordenking of meditasie kan jou lewe beïnvloed soos niks anders nie.
Onder leiding van die Heilige Gees oordink jy God se woorde en beloftes aan jou.
Oordink dit oor en oor in jou gedagtes en maak dit op jou persoon
en omstandighede van toepassing. Die Heilige Gees help jou daarmee!
Deur die Heilige Gees sal daardie Skrif of belofte
‘n permanente indruk op jou bewussyn maak.
Dit laat jou onder die Heilige Gees nuut dink oor wat God vir jou bedoel.
“..laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…” – Rom. 12:2.
Ons dink met soveel vooroordeel, en gebrek aan insig en wysheid,
wanneer ons God se Woord en sy beloftes vir ons lees of hoor.
Dit is ook wat met Abraham gebeur het.
Wanneer God sê hy gaan ‘n groot nageslag hê, is dit tog onmoontlik.
Hy is oud, en Sara is ook oud, en haar lewe lank onvrugbaar.
Dit druis in teen alles wat Abraham se gesonde verstand vir hom sê!
Al hóór hy wat God sê. Al hoor hy dit duidelik…
God weet dat Abraham hierdie intellektuele worsteling sal hê.
Daarom gee Hy aan Abraham ‘n beeld om te oordink.
Hy neem hom uit in die nag en wys hom die sterre.
Hy wil hê Abraham moet oordink wat hy sê. Genesis 15:5-6:
“Daarop neem die Here Abram na buite toe onder die naghemel en sê:
“Kyk op en tel die sterre. Kan jy? So sal jou nageslag wees – te veel om te tel!”
Vers 6: “Abram het die Here geglo en die Here het Hom as regverdig gereken.”
Tussen vers 5 en 6, weet ons uit ander skrifgedeeltes,
het Abraham die belofte van God oordink en oordink,
ten opsigte van hom en Sara. Stel jou voor hoe Abraham na die sterre gekyk het.
Hoe hy God se belofte voor sy geestesoog gesien het, voor hy dit kon glo.
Maak tyd om God se woorde en beloftes aan jou te oordink, dag en nag.
Die Heilige Gees maak dit werklikheid in jou. Jy begin leef daaruit!
Die Heilige Gees werk kragtig met God se Woord en beloftes in jou!
Moenie net die Woord lees nie….
Ernest