Wanneer God aan ons die Tien Gebooie vir ons lewe gee,
is dit sy meesterplan om elke faset van ons lewe
met integriteit en vreugde te vul.
Dit is ook sy meesterplan waarmee hy die eer van sy Naam
en sy kerk wil beskerm, sy kinders, hulle wat aan Hom behoort.
Met tien kragtige woorde gee God die lewensriglyne vir sy kinders,
om dankbaar vir Hom te lewe, vir sy genade en redding vir elkeen wat glo.
Hy lê die grondslag van die eenheid tussen gelowiges, en hul belydenis.
Ons is in ons eeu ‘n generasie van onafhanklike denkers.
Ons doen ons eie ding en volg ons eie kop.
Met waagmoed, selfvertroue en die vermoeë om te oorleef,
as positiewe eienskappe.
Maar juis hier kom die belangrike punt:
Dit bly lewensbelangrik, regtig lewensbelangrik,
om ons lewe binne hierdie konteks juis op die glashelder
fondament van God se wil te bou!
Sy wil soos uitgespel in sy Tien Gebooie.
Wie die tien lewensreëls geringskat, verloor sy verhouding met God.
Dit is God se riglyne vir ‘n lewe van dankbaarheid,
dankbaarheid vir ons verlossing in Jesus Christus.
As ons hiersonder wil lewe,
sal ons tot die dood toe verdwaal in ons eie konsepte en insigte.
Ons vind in die gebooie riglyne vir ons standhoudende verhouding
met God en ons medemens.
Sonder God se gebooie, sal die lewe vir ons ‘n doolhof wees.
Sy gebooie wil ons die lewe in hoogste kwaliteit en vreugde laat leef.
Saam met Psalm 119:14 kan ons uitroep:
“Om volgens U verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld.”
Ernest