“Ek is wat Ek is.”
So sê God oor Wie Hy is…
In die stilte van die woestyn sien Moses die heilige vuur.
Moses gaan nader;
hy beskryf die vuur wat hy sien as “hierdie wonderlike verskynsel.”
Die God van die heelal wil kontak maak met sy skepsels.
Die vuur van sy teenwoordigheid vervul Moses met verwondering.
Moses is nog een van die talle Ou-Testamentiese mense,
met wie God ‘n ontmoeting reël.
God daal uit die hemel neer, omdat die datum van bevryding,
wat Hy byna 600 jaar tevore met Abraham bespreek het, aangebreek het.
Ons onthou nog Genesis 15:13-14:
“Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees,
in ‘n land wat nie aan hulle behoort nie.
Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank.
Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak,
en dan sal hulle met baie besittings wegtrek.”
God kom nou na Moses om sy belofte aan Abraham gestand te doen.
“En as hulle vra: “Wat is sy Naam?”…vra Moses.
“Ek is wat Ek is”, antwoord God. Eksodus 3:14.
“Sê: “Ek is” het jou gestuur.”
Nie eers God se Naam kan Hom volledig bevat nie.
Ons het nie ‘n idee hoe groot God is nie!
Hierdie God is die ware God!
Hy is groter as die denke van die wyste mens.
Hy is die God wat selfs in die openbaarmaking van sy Naam,
Homself genadiglik onaantasbaar verberg, én duiselingwekkend openbaar!
“Ek is…”
Hierdie God bestaan, het nog altyd bestaan, en sal bestaan tot in alle ewigheid!
Vir Hom is 1000 jaar soos een dag, en een dag soos 1000 jaar.
Hy is die Middelpunt van die heelal.
“Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge, tot in ewigheid.” – Rom. 11:36.
Ek is….jou God, sê Hy vir ons deur sy Seun.
Ernest