“Toe het die Here vir Moses gesê:
“Ek kom na jou toe in ‘n donderwolk.
Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat,
en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”
Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie,
want God het gekom om julle te toets.
Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”
Eks. 19:9 en 20:20.
Wanneer God verskyn is dit onvoorspelbaar.
Soms kom Hy in ‘n stilte, wat nooit die moontlikheid van
‘n storm uitsluit nie; soms in ‘n magtige skouspel,
wat altyd die moontlikheid inhou dat Hy geluidloos kan nader kom.
Op Sinai verskyn God in donderslae en ‘n donker wolk.
God verskyn in majesteit en mag.
Wie kan ‘n aardbewing beheer of ‘n weerligstraal vasvang?
God is God, sê die tekens van sy verskyning.
En die betekenis van sy Naam verdiep nog meer!
“Ek is wat Ek is.”
“Moenie bang wees nie”, sê Moses,
“want God het gekom om julle te toets.
Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”
Die volk sal ook kan hoor wanneer God met Moses praat,
en dan sal hulle vertroue in Moses hê.
Daar bestaan nie ‘n groter voorreg nie,
as om in ‘n verhouding met God te wees!
“God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie:
wat kan ‘n mens aan my doen?”
Ernest