Ten spyte van God se verskyning aan die volk in mag en majesteit,
gaan bou hulle ‘n goue kalf. Is dit nie net soos ons is nie!
En nou kry die Israeliete, na die bou van die goue kalf,
met God in sy gloeiende toorn te doen!
En Hy spreek die mees skrikwekkende woord!
Hy gaan hulle verlaat!

Moses gaan as verteenwoordiger van die Israeliete by God pleit.
“Wees ons genadig, Here.”
In Eksodus 33:8-10 vind ons die beskrywing van die grafstilte,
wat oor die laer neergedaal het...die lewe wat gaan staan het!
Verwese mense staan by die ingange van hul tente en kyk Moses agterna.
Hy moet ingaan by die tent waar hul toekoms bepaal word.
In watter gemors kan ons nie onsself dompel nie….
Verwese mense. Die enigste sin in die lewe…
het nou Gód se teenwoordigheid by hulle geword!
Hy op Wie hulle hul rug gedraai het, na al sy liefde en genade!
Hulle buig nou in aanbidding en desperate ootmoed.
In skuldbelydenis en smeking…
wanneer God deur die wolkkolom aandui dat Hy neerdaal na Moses.

Uiteindelik laat God vir Moses teen die Sinai-berg opklim.
Moses moet twee kliptafels saamneem.
Dan gee God vir Moses die betekenis van sy Naam!
Eksodus 34:5:
“Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan,
en die Naam “die Here” uitgeroep”!
In sy Naam is daar genade en oordeel, ‘n verbond,
en die ontsettende herinnering aan al die sonde wat nie bely is nie:
“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte.
Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde,
maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie…” - Eks. 34:6-7.

God se geheue is van ewigheid tot ewigheid.
Sonde waarin hardnekkig, en sonder berou en belydenis,
volhard word, vergeet Hy nooit nie.
Hy is regverdig.
Sonde wat met berou bely word, vergewe Hy vir altyd!

Ernest