Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”
Hoeveel ligjare is die verste grens van die heelal van ons af?
As God die skepping geskep het, wie het God geskep?
Mense vra hierdie vraag. Maar as daar voor God ‘n ander skepper was,
wie het hom geskep?, en vir hom en vir hom…?
Meteens besef ons dat God self van ewigheid af daar was.
Die soektog na die eerste Wese en sy dade, begin en eindig by Genesis 1:1.
Sommer heel vroeg in die Bybel klaar God ‘n klomp van ons vrae op.
Genesis 18:14: “Is iets te buitengewoon vir die Here?”
Die antwoord op al ons lewensvrae! Dink maar daaroor!
Genesis sê die aarde was onbewoonbaar, en dit was donker op die diep waters.
Miljoene der miljoene jare se duisternis. Waar was God in die duisternis?
Weereens: “Vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos dag,
duisternis so goed soos lig.” Psalm 139:12.
God is bo die onbewoonbaarheid, bo die duisternis, bo alles! Bo die heelal.
Dink maar net aan die heelal…
Net ons sonnestelsel, waarvan ons aarde deel uitmaak,
draai teen ‘n spoed van 656 000 kilometer per uur,
en maak een omwenteling in 200 miljoen jaar!
Die wetenskaplikes vermoed dat daar nog een biljoen
ander sonnestelsels soos ons sin is!
Die sterre is ontelbaar…
Die kosmos is eintlik ‘n yl bevolkte vyandige ruimte,
vanweë sy grensloosheid.
En tog is daar volmaakte ordening,
in ‘n komplekse snelwegnetwerk van wentelende hemelliggame.
Waar kom dit vandaan? En dit wat voor dit was, en voor dit…?
God skep dit, en in hierdie onmeetlike ruimte,
waarin alles te groot vir ons denke en verstand is,
hoor ons die stem van God wat in Genesis 1:26 sê:
“Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”
Eensklaps weet ons wie ons in God se onmeetbare skepping is!
Ons is God se verteenwoordigers!
Dit slaan jou asem weg!
Jy verteenwoordig God!
Ernest