God skep ons as sy verteenwoordigers…
En hoe ‘n gemors het die mens nie daarvan gemaak nie.
God moes kom ingryp, om weer sy beeld in die mens te kom herstel.
Hy moes die mens kom herskep na sy beeld.
In die tyd, wat ook deur God geskep is, kom voorspel God dit.
Reeds 680 jaar voor God dit kom doen, voorspel Hy dit!
Dit is ongeveer 680 jaar voor die geboorte van Christus,
wanneer God na Miga kom en in Miga 5:1 sê:
“Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda,
maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort,
en Hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede.”
In God se raadsplan is die tyd ryp vir die mensdom om dit te hoor,
dat die Saligmaker in Betlehem gebore sal word.
Weereens, in God se tyd. ‘n Duisend jaar is vir Hom soos een dag,
en een dag soos ‘n duisend jaar… in God se raadsplan en in God se tyd…
God praat nie van Iemand apart en buite Homself nie.
God praat van Homself.
God kondig Homself in die gestalte van sy Seun aan,
as offer vir die sondes van die stofmens!
Dit is nog meer “mindblowing” as dat God alles uit niks skep!
God kondig aan dat Hy die redder van sy verteenwoordigers sal wees.
Hulle wat sy beeld in hulle vernietig het,
en herskep moet word om sy verteenwoordigers te kan wees!
Hy, wat eens in die profete van hulle geëis het om op te hou
om lam en siek diere vir Hom te kom offer…
Hy sal die Offerlam word vir hulle wat hul rug op Hom gedraai het!
Dit is groter as die feit dat God die hemel en die aarde geskep het!
Dit gaan nog méér ons verstand te bowe!
God is God! Daar is geen ander God nie! Punt.
Reeds 680 jaar voor sy tyd van ingrype,
kondig Hy aan dat hy in die gestalte van ‘n mens na ons toe sal kom,
tussen ons sal kom woon. Die gebeure wat ons nou met Kersfees vier….
God het hierdie belofte in Miga volledig kom vervul.
Deur die menswording, kruisdood, en opstanding van sy Seun,
Jesus Christus, met Wie die Vader en die Gees één is!
Een belofte is nog hangende….
Die Here is tans komende!....met die wederkoms!
God sal doen wat Hy beloof het:
Ons sal Hom sien!
Verseker!
Ernest