God kom kondig aan dat Hy by sy verteenwoordigers is!
Die genade boodskap wat van die hemel af deurbree,
dat God sy verteenwoordigers kom herskep!
Dat Hy hulle sy kinders wil maak. Nuutgemaak!
Was daar al ooit ‘n wonderliker boodskap van goeie tyding,
goeie tyding van groot blydskap! Lukas 2:10-11:
“Moenie bang wees nie, want kyk,
ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap
wat vir die hele volk bestem is.
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid
die Verlosser gebore, Christus die Here!”

‘n Boodskap wat elke emosie dra.
Van “moenie bang wees nie”…tot “groot blydskap”.
‘n Boodskap wat God se profesie staaf.
‘n Boodskap wat aan God al die eer gee.
‘n Boodskap wat ‘n nuwe Godsnaam bekendmaak, Christus die Here!
‘n Boodskap wat God se goedheid en genade, soos die seën van reën,
oor die sterwende mensdom uitgiet.
‘n Boodskap van nuwe lewe en groei saam met God!
‘n Boodskap wat ons steeds vier met Kersfees!

Hierdie is nie ‘n dag van skrik nie, of bangwees nie.
Dit is ‘n dag van groot blydskap.
Dit is die boodskap van God se groot genade en liefde.
Lank het die volk gesteier onder sy eie keuses. Weg van God af.
Lank het die volk geluister na die boodskappe van die profete van God.
Hier steier hulle onder Romeinse heerskappy.
Vir 400 jaar lank, tussen die Ou-Testament en die Nuwe-Testament,
het hulle nie die stem van ‘n enkele profeet van God gehoor nie!
Nou gaan die hemel oop sodat hoop en blydskap hul siele en lewe kan vul.

Soos Miga 680 jaar tevore profeteer het,
word die Verlosser in die stad van Dawid gebore.
Vir die eerste keer hoor die mensdom die wonderlike Naam van die Verlosser:
Christus. Gesalfde. Here. Die Verlosser is God!
In die wondernag weergalm die vreugde van die hemel oor die aarde.
Die reddingsbelofte van God is vervul.
Immanuel!...God is by ons!
Ons, sy verteenwoordigers…en nou ook sy kinders!

Ernest