As jy ware vreugde in die Kerstyd wil ervaar,
moet jy besef dat God by jou teenwoordig is,
nie net met Kersfees nie, maar jou hele lewe,
en moet jy dit bewustelik ervaar.
Vreugde is die teken van jou belewenis van God se teenwoordigheid.
Jy moet as’t ware die woorde van Teilhard de Chardin in jou hart bêre:
“Vreugde is die mees onfeilbare teken
van die bewustheid van God se teenwoordigheid.”
Mense wat God “sien” loop oor van vreugde!
Jesaja 35:10 sê hieroor:
“Hulle sal juigend aankom, hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees.”
Wat is vreugde oor God se teenwoordigheid?
Daar is ‘n groot verskil tussen vreugde en geluk.
Mense sien dikwels geluk as iets wat beskermend of versterkend
ten opsigte van ons eie lewe is, soos geld, versekering,
afwesigheid van probleme, lekker verhoudings….
Vreugde daarteenoor,
is iets wat ons kan hê sonder die dinge “wat ons gelukkig maak.”
Jy kan baie ongesond wees, min geld hê, verskeie probleme hê….
en steeds die diepste vreugde ervaar.
Vreugde oorspoel jou lewe as God in die kern daarvan is,
ten spyte van watter omstandighede ookal.
Vreugde laat jou met jou voete op die grond van hierdie wêreld leef,
dit in die oë kyk,en tog sien jy God in alles.
Vreugde bring ook geluk. Maar geluk bring nie noodwendig vreugde nie.
Geluk is iets wat mét jou gebeur.
Vreugde is iets wat binne-in jou gebeur.
God laat dit gebeur!
Mense wat God se teenwoordigheid ervaar, se beker loop oor van vreugde.
Die boodskap van Kersfees is dat God by ons is! Teenwoordig!
En as jy hierdie vreugde het, kan jy nie anders as om dit te deel nie.
Jy kan nie hierdie vreugde vir jouself hou nie!
Leef jou vreugde in hierdie wêreld!
Ernest