1 Tessalonisense 5:16:
“Wees altyd vol blydskap”.

In dr. Seuss se storie, “How The Grinch Stole Christmas”,
word die Grinch se probleem hoekom hy Kersfees “steel” soos volg beskryf:
“Grinch had a heart two sizes too small”.
Dit is baie mense se probleem.
Kinders van die Here wat die Immanuel God van Kersfees ken,
is mense met groot harte wat wil bars omdat dit vol liefde is,
en vreugde, en vergifnis. En deernis.
Die belangrike vraag van bogenoemde fliek is:
Hoe wil jy onthou word?
As iemand met ‘n hart vol liefde, vreugde, vergifnis en deernis,
of as iemand met ‘n hart “two sizes too small”?

Kinders van die Here behoort vreugde te bring waar hulle gaan.
Dit is die boodskap van Jesaja 35:10 gewees:
“Hulle sal juigend aankom, hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees.”
Daar is egter ook mense wat vreugde bring wanneer hulle gaan….
Ware gelowiges bring egter vreugde wáár hulle gaan.

Eeue gelede het hulle die gebruik gehad dat ‘n bepaalde vlag
by die koning se kasteel gewapper het as hy daar was.
Dit het aan die hele omgewing vertel hy is daar.
Vreugde!...is die vlag wat in ons lewe wapper,
om te sê dat Koning Jesus dáár is, in ons lewe!
Dit is meer as geluk en glimlagte.
Dit is die diep besef van gelief wees, van behoort aan,
selfs al is daar soms min redes om so te dink.
Die vreugde is daar, ongeag omstandighede.
Jy kan dit aan niemand verduidelik nie,
want dit gaan alle verstand te bowe,
soos die Woord ook oor God se vrede sê.
Die vreugde is daar, want God is daar, in jou lewe.

Dít is die vreugde van Kersfees:
God – Immanuel – is met ons!
Die goeie tyding van groot blydskap!

Ernest