Daar is eintlik nie ‘n groter Kersfees-vreugde,
as om in die Naam van die Here ‘n verskil te maak nie,
in ánder mense se lewens.
Met Kerstyd beleef ons meer welwillendheid en vreugde.
Mense behandel mekaar, méér as ander tye, asof hulle Jesus in mekaar sien….
‘n Winkel-eienaar het by ‘n venster gestaan en kyk na ‘n bushalte oorkant die straat.
Hy het trane in sy oë gehad en een van sy klante vra toe aan hom wat die rede is.
Sy verhaal was soos volg:
“Sien jy daardie bankie by die bushalte? Elke dag hierdie tyd,
het ‘n ou vrou daar gaan sit en brei. Ek het haar daaroor uitgevra.
Sy het vertel dat haar seun vyf jaar gelede na die oorkant se vlootbasis is.
Hy het min geskryf. Sy weet dat hy ‘n meisie en ‘n baba het.
Maar hy het min geld en kan nie kaartjies hierheen bekostig nie.
Maar sy weet,….eendag sal hy met die bus van die vlootbasis af kom.
Intussen wag sy, en kom sit elke dag en brei aan klere vir die kleinkind.”
Verder vertel die winkeleienaar:
“’n Uur gelede het die bus gestop, en haar kinders het toe van die bus af geklim.
Toe die ou vrou hulle sien, en haar kleinkind vir die heel eerste keer sien,
was dit die grootste vreugde wat ek nog ooit in my lewe gesien het, en sélf ervaar het.
Dit moet die naaste wees aan die vreugde van die Here oor elke geredde siel!
Ek sal nooit daardie gesigte, en kyk vir mekaar,
en vashou van mekaar vergeet solank ek lewe nie!
Dit moet die vreugde wees waarvan die Bybel baie praat!
Ek sal dit nooit ooit vergeet nie!”
Die klant het toe vir die winkeleienaar gevra:
“Hoekom is jou eie vreugde ook so onbeskryflik groot?
Jy het die buskaartjies vir hulle gekoop! Nie waar nie?”
Antwoord die winkeleienaar met vreugdetrane:
“Ja, ek het gedink dit kan ‘n groot Kersgeskenk aan daardie ou vrou wees,
in hierdie Kerstyd…. en haar alleenheid. Maar, ek belowe jou,
ek het sulke vreugde nog nooit gesien of ervaar nie.
Ek sal nooit daardie vreugde op haar gesig vergeet nie. Nooit.”
Kerstyd is ‘n tyd om te dink aan Jesaja 35:3:
“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik.”
Besluit nou daaroor, en gaan doen dit die res van jou lewe.
Dit is Kersfees-vreugde wat ander mense aanraak,
en in die Here se Naam ‘n verskil maak.
Ernest