“Sê vir die wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier.” – Jesaja 35:4.

“Elke keer as jy iemand liefde gee, lui die vreugdeklokke in die hemel,
en Christus word weer in Betlehem gebore.” – Anoniem.

Wiseman het in ‘n vallei in Afrika gebly, waar hy net aan mense wou goed doen,
en God wou dien met vreugde.
Die vallei se mense was regtig aaklig in hul verhoudinge,
en het niks vir God omgegee nie. Wiseman het gewonder hoé hy God in hierdie
omstandighede met vreugde gaan dien. Hy het sy oë opgeslaan na die berge,
en besluit om God daar in die stilte en natuurskoon te gaan dien.

Hy het bergop begin loop, en op pad boontoe by iemand verbygegaan,
wat op pad na die vallei daar onder toe was.
“Waarheen is jy op pad?” het Wiseman aan die man gevra.
“Na die vallei daar onder toe.
Ek gaan by die mense daar onder bly”, het die man geantwoord.
“Ken jy die mense daar onder, en weet jy hoé hulle is?”,
wou Wiseman van die man weet.
Sonder om op sy antwoord te wag, het Wiseman net verder boontoe geloop.
Toe hy die plato van die berg bereik, sien hy ‘n ou man voor ‘n hut sit.
“Weet jy waar ek God kan raakloop?
Ek is op soek na Hom”, het Wiseman gevra.
“Jammer, jy moes Hom nou net gemis het. Hy is op pad na die vallei toe,
daar onder, om tussen die mense te gaan bly.”

Skielik het Wiseman besef die Persoon wat hy ontmoet het was God!
Hy het Hom nie in ander mense raakgesien nie.
Hy het Hom nie eers herken nie!
“Weet Hy hoe is die mense daar onder?,” het Wiseman die ou man gevra.
“Hulle is baie moeilik om mee saam te leef, en gee nie om vir God nie.”
Antwoord die ou man:
“Maar dit is juis hoekom God daar in die vallei gaan bly.
Omdat hulle Hom so nodig het.
God is altyd by hulle wat Hom nodig het,
en selfs by hulle wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie.”

Wiseman het weer inderhaas bergaf gegaan, om tussen die mense te gaan bly.
Hy het alle mense gehelp, omdat hy besef het God kan in enige mens wees.
Die mense het as gevolg van Wiseman baie van God se vreugde begin beleef.
Wiseman het die mense met vreugde in God bedien, al was hulle hoé moeilik.

Mag ons die mense wat ons lewenspad kruis,
met die vreugde van God bedien.
Die vreugde wat met God se koms na die wêreld
vir ons ‘n werklikheid geword het, in Jesus Christus!

Ernest