Dit is die heel belangrikste boodskap vir elke nuwe dag,
maand en jaar in jou lewe! Jou hele toekoms!
Jesus Christus is komende!
Hy kom in elke nuwe dag wat aan ons gegun word,
in elke nuwe maand en jaar, van jou lewe.
Wanneer Paulus vir die Filippense bid, dan sê hy in 1:6:
“Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het,
sal voortsit totdat Hy dit voltooi,
op die dag wanneer Jesus Christus terugkom”.
Om met hierdie verwagting te leef,
dat God elke nuwe dag en jaar van jou lewe, komende is in jou lewe,
het ‘n bepalende effek op hoé jy gaan lewe!
Omdat Jesus in elke dag is, en ook op pad is terug, met sy wederkoms,
leef jy elke oomblik asof jy alles vir Hom doen!
Jou lewe, werk, verhoudings, alles!
Daarom bid Paulus in verse 9-10:
“Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word,
deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.
Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak.
Dit sal julle ook help om skoon en onberispelik te lewe,
tot op die dag wanneer Christus terugkom.”
Kom ons maak dit ook ons gebed vir onsself en mekaar vir die nuwe jaar.
So sal ons in die nuwe jaar onderskei wat regtig saak maak.
Vers 11 gee dan hierdie belofte :
“Dan sal julle hele lewe vol wees,
van die goeie gevolge van julle verhouding met God –
goeie gevolge wat Jesus Christus bewerk het.
God sal daarvoor geëer en geprys word.”
Koning George VI se laaste nuwejaarsboodskap aan die Britse volk,
voor sy dood was:
“Ek het vir die wag by die poort van die nuwe jaar gesê:
“Gee my ‘n lig sodat ek veilig die onbekende kan ingaan”
Hy het geantwoord: “Sit jou hand in die hand van God,
en dit sal vir jou beter wees as ‘n lig, en veiliger as ‘n bekende pad.”
Sit jou hand in God se hand.
Ernest