In Openbaring 2:2 sê die Here vir die gemeente in Efese:
“Ek weet alles wat julle doen.
Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding….”
Maar dan sê die Here ook in vers 4:
“Maar Ek het dit teen julle:
julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”
Daar is ‘n direkte verband tussen die opgestane Here en sy kerk.
Hy is nie afwesig nie. Hy beweeg tussen sy aardse familie van gelowiges.
Hy bewaar en bemoedig hulle. Christus wil hê sy kerk moet dit weet.
Hy wil nie hê sy kerk moet stagneer nie.
Ons moet ook nie ‘n sittende, rondstanende gemeente word nie.
Sit-sit kom ons nêrens nie.
En die liefde van Christus, moet dit wees wat ons dring tot aksie!
Dit is die Here se klag teen Efese:
hulle het Hom nie meer so lief soos in die begin nie.
Die liefde van Christus dring ons om op te staan en te dien.
Dit help nie om ‘n “seisoenkaartjie” in die erediens te hê,
maar jy staan nie op uit jou sitplek om die Here te gaan dien nie.
Ons kan nie die Here se wil vir ons gemeente sittende realiser nie.
Daar is nie iets soos die Christendom in sitting nie.
Die probleem is dat aktiwiteite gemeet word aan die sittendes in die kerk.
Fout. Die hoeveelheid mense wat in die erediens sit,
bepaal nie die impak wat die gemeente in die wêreld maak nie.
Die Here vra hoeveel mense Hom buite die byeenkomste getrou navolg.
Gaan maak hierdie jaar die impak vir die Here,
en vir die gemeente, daar waar jy leef.
Toegerus, en uitgestuur, om te dien.
Gedring deur die liefde van die Here.
Ernest