Fil. 2:3: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie,
maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Iemand het gepraat van “geloof sonder ék”.
Susan Anthony skryf: “I distrust people who know so well,
exactly what God wants them to do,
because I know, it always coincides with their own desires!”
Jeremia het al gewaarsku teen mense wat presies weet hoé en wát die Here wil.
Mense wat die indruk skep dat hulle direkte spreekbuise van die Here is.
En hierdie “verhouding met die Here”, maak hulle nie noodwendig nederig nie.
Met hulle vroomheid en al is hulle baie selfversekerd oor baie dinge.
Hulle weet hoekom jy nie gesond word nie. Kleingeloof.
En ook hoekom dinge met jou gebeur of nie gebeur nie. Sonde.
Hulle is veroordelend jeens almal wat nie soos húlle glo, bid, getuig, doop,
of wat ookal nie. Hulle is voortvarend en selfvoldaan,
in hul verhouding met God en met sy kinders. Selfs onverdraagsaam.
Maar hoe naby draai ons nie ook subtiel hieraan nie?
Hoe nederig is onsself in die dien van die Here en ons naaste?
Hoe kan ons hierdie jaar meer nederig vir God en mense gaan dien?
Nederigheid is verhoudingstaal en verhoudingsingesteldheid.
Nederigheid is om jouself te vergeet en vir ander te leef.
Dit is om te wéét jou lewe gaan nie oor jouself nie!
Dink na hieroor:
Hoeveel keer bid jy sonder om die woord “ek” te gebruik?
Kan jy liedere sing sonder die woord “ek”?
Kan jy oor die evangelie en die Here praat,
sonder om die woord “ek” te gebruik,
of iets oor jouself te sê of te vertel?
Begin dit nou doen. Bid, getuig, en dien, sonder om oor jouself te praat.
Gebruik slegs God se Naam en ander mense se name in jou gebede.
Waag dit om jouself uit die middelpunt vn jou verhaal met God te neem…
So kry ons nuwe perspektiewe oor God en mense.
En ons groei in nederigheid.
Ernest