Moenie daaraan twyfel nie. God wíl jóú gebruik!
Moenie heeltyd verskonings uitdink nie.
Moses het gesê hy kan nie praat nie.
Jeremia het gesê hy is te jonk.
Abraham het gedink hy en Sara is te oud.
Gideon gebruik sy afkoms as verskoning, en sy swak selfbeeld.
En hier is Gideon se verskoning. Hy sê vir die engel:
“Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red?
Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manassa,
en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” – Rigters 6:15.
Gideon dink hy is ‘n “uit die plek mens” vir God se werk.
Op die oog af lyk alles uit plek uit, met wat jy sal soek in ‘n leier,
om Israel teen die Midianiete te help.
Eerstens kruip hy weg! Hy is bang!
Maar die engel gaan haal hom daar by die dorsvloer. Rig. 6:11.
Tweedens is Gideon nie godsdienstig nie! Inteendeel.
Die engel kom na hom toe met die woorde dat hy ‘n dapper held is.
Gideon is daaroor totaal uit die veld geslaan.
Dadelik laat blyk Gideon dat hy nie in die Here glo nie.
Want, sê hy in vers 13, die Here het hulle in die steek gelaat.
Gideon se uitgesproke ongeloof laat die engel nie omdraai nie.
Nogtans beveel die engel hom in die Naam van die Here,
vers 14, om die volk te bevry.
Gideon is steeds nie oortuig nie. Hy wou weet waarmee hy dit moes doen,
want sy familie was die armste in Israel.
En Gideon is boonop die onbelangrikste kind in hierdie onbelangrike familie.
Maar niks van dit laat God wegrdaai nie!
God se keuse het op Gideon geval, ongeag hoe hý, óf mense dink.
Gideon hoor in vers 16 dat God met hom is!
God stel nie in die “regte” mens met die “regte geestelike kwalifikasie “belang nie.
Hy gebruik elke mens wat Hy roep om vir Hom te lewe.
Hy sal jou toerus en jou stuur vir wat Hy wil hê jy moet doen.
God dink baie groter van jou as wat jyself of ander mense oor jou dink.
God weet watter potensiaal hy in jou geskep het, en dat Hý deur jou gaan werk.
Hou op om terug te deins, soos bogenoemde gelowiges in die Bybel.
Besef God het ‘n roeping vir jou.
Moenie heeltyd bekommer presies wat dit is, en so kosbare tyd laat verlore gaan nie.
Gaan leef net voluit vir die Here, en Hy sal dit deur jou doen.
Dit sal groter vrug dra as wat jy kan dink of waarneem.
Ewigheidsvrug!
Ernest