Efesiërs 5:16 het in die ou Afrikaanse vertaling gesê;
“…koop die tyd uit….”
Om een of ander rede het mense begin om dit te gebruik as “Woord”,
om nie tyd te mors nie, of om haastig te wees,
of om besig te wees, of om nog besiger te wees…!
Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê:
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid…”
Dit het niks met haastig wees, of besig wees, te doen nie.
Dit het daarmee te doen om elke geleentheid te benut tot God se eer.
Of jy werk, rus, slaap, eet, lees, kuier, vleisbraai, visvang, wat ookal…

Dikwels is ons baie besiger as wat die Here ons wil hê,
en meer dikwels te besig vir Hom!
Hier en nou is nooit so belangrik as wat ons nog moet doen nie.
Jou tyd is altyd reeds opgebruik, en daarom bly jy haastig.
En jy dink jy is belangriker en besig met meer belangrike dinge,
as hulle wie in jou oë rustig en tydsaam is. Dis nie waar nie.
Besigwees is dikwels ‘n rookskerm waaragter ons skuil.
Dit versteek ons diepste onsekerhede.
Dit verskerp ons behoefte aan erkenning.

Daar is nooit tyd vir “rondsit en niksdoen” nie.
Ons is opgeskeep met woorde soos “tydsbestuur” en “tydsbenutting”.
Dit word woorde wat ons nog meer laat jaag, in plaas van om ons tyd te gee!
Ons moet nou selfs nog méér tyd spaar, sodat ons méér effektief kan wees,
en nóg méér doen. Alles word méér en méér! In dieselfde tyd!
Ons spaar nooit regtig tyd nie….want by die volgende bestemming,
vergeet ons van die gespaarde tyd, en jaag verder voort!

Die Here het nie bedoel dat ons so moet leef nie.
Ons kan onmoontlik heeltyd deur die klankgrens leef, en dink ons kan sinvol leef.
Wanneer die Here op sy besigste was, het Hy eenkant toe gegaan,
en rustig en stil geraak, by sy Vader, en ook by sy dissipels en verhoudings naby aan Hom.
Let op, eenkant, na die Vader toe, en geliefdes toe.
Na die belangrikste verhoudings toe.
Na die belangrikste roeping en sin van die lewe toe.

God het ons geskep vir verhoudings.
Nie om te kyk hoeveel “goed” ons in ‘n uur, dag, maand, of jaar, kan inpas nie.
Het jy tyd om stadig genoeg te leef, om te leef? Om saam met God te leef?
Om saam met die kosbare verhoudings wat Hy jou gee te leef?
Dan kom jy in God se “lewensruimte” in….
Hiervoor het jy rus-tyd nodig. Stilstaan-tyd. Handevat-tyd. Boekevat-tyd.
Boekevat-tyd is stiltyd saam met God.

Hierdie is n