Daar is blykbaar al meer as 2000 gedokumenteerde vrese.
Vrese waaraan mense kan ly, en wat hul tot raserny kan dryf.
Enige iets vanaf aragnofobie, die vrees vir spinnekoppe,
tot fotofobie, die vrees om onvoorbereid afgeneem te word,
tot aragibuturofobie, die vrees dat grondboontjiebotter
aan jou verhemelte kan vassit, tot fobofobie, die vrees vir vrese…
Dit klink absurd, wanneer mens luister waarvoor mense regtig vrees.
Veral omdat navorsing dit wil hê dat ons met net twee vrese gebore word.
Die vrees om te val. En die vrees vir harde geluide. Dit is al!
Vanaf twee vrese, het die mens dit uitgebrei na duisende.
Dit is wat die lewe met jou doen as jy nie geanker is nie.

Vrees parkeer dan heel eerste in jou kop en maak daar nes.
Vrees is ‘n dief wat jou geloof steel. Dit roof geloofsvertroue.
Dit steel ook jou lewenskwaliteit en lewensvreugde en geluk.
Dit verander jou in ‘n gevangene van jouself en van ander.
Vrees ontmagtig jou. Dit is iets wat binne in jou met jou persoonlik gebeur.

Wat is die oplossing vir vrees?
Die Here sê dit is om die Woord te lees en te leef en te geniet.
Lees dit met groot oortuiging en geloofsvertroue.
Die Bybel is die kragtigste skriftelike gids vir die lewe.
Die Skepper van lewe gee dit self! Wie weet beter?
En die Here sê juis in die Woord dat die Gees wat Hy ons gee, 2 Tim. 1:7,
maak ons nie vreesagtig nie! Dit vul ons met krag, en liefde en selfbeheersing.

Die Bybel gee jou die antwoord op die belangrikste vrees.
Hoe om hier en nou en vir altyd in vrede met God te leef.
Die Woord is ons rigsnoer vir nuwe lewe, ware lewe,
en daarom vryheid van vrees!
Daarom het die Psalmskrywer ook in Psalm 119:114 gesê:
“By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue.”

Ernest