Kyk mooi wat sê die beeld in Psalm 119:105:
“U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
Die lamp of lig kom nie in die donker agter jou aan nie.
‘n Motor se hoofligte sit nie agter en skyn agtertoe nie.
Jy dra die lig voor jou om te lig waar jy gaan loop.
Jy skyn die motor se hoofligte ver vooruit na waar jy met spoed gaan ry.
So werk dit ook met die Woord van God.
Dit is soos ‘n lamp wat die weg in die donker wys, die lig op die pad.

Die Bybel is ‘n wonderlike boek,
omdat dit God se lewende woorde is wat lewe gee.
Die Bybel is nie ‘n ou uitgestorwe boek waarop ons post-mortems doen nie!
Die Bybel is God se Woord. Dit is sy amptelike stem. Dit is nie hoorsê nie.
Die Bybel is die enigste Boek waar die Outeur heeltyd,
deur sy Gees teenwoordig is, terwyl jy dit lees.
Dit is nie maar ‘n klomp los SMS-boodskappe wat God eksklusief aan jou stuur nie.
Daarom moet jy die Bybel verantwoordelik lees en so gaan leef!
Met inagneming van konteks, en God se bedoeling in die res van die Woord.
Jy moet ook terdeë bewus wees van jou eie vooroordele terwyl jy lees!

Let op: Die Bybel is nie tydsgebonde nie. Die Bybel is tyds-betrokke!
Daarom moet ons eintlik altyd vorentoe gaan, na God se Woord toe.
Ons volg die lig wat lig bring in die duisternis.
Ons gaan vorentoe, en volg die Woord,
eerder as dat ons ‘n omkeer maak na die Woord toe.
Die bekende beeldspraak wat sê ons moet “terugkeer na die Woord” toe,
is baie bekend. En die bedoeling is goed.
Maar dit beteken ons was weg van die Woord.
Dat ons deurgaans die Woord moet volg,
verwoord die lewende dinamika van die Woord beter.
Die Here lei deur die Woord, en ons volg. Ons wil nie voor loop,
en moet dan gereeld omdraai en terugkeer nie. By wyse van spreke.
Dit beteken ons moet hééltyd, hééltyd, die Here volg!

Die Bybel is altyd voor ons, nie agter ons nie, soos ‘n lig op die pad.
Ons leef daagliks voorwaarts, Woordwaarts. God lei ons.
Ons reformeer vorentoe, na God se wil toe, nie agteruit nie.
Ons volg Hom, nie Hy vir ons nie.
Ons draai nie terug om God te vind nie.
Hy draai terug om ons te kom haal!
God bly nie agter nie. Ons volg Hom. Hy loop voor!

Kom ons volg die ware Lig wat elke mens verlig! Joh. 1:9.
“U Woord is die lamp wat my die weg wys!
Die lig op my pad!”

Ernest