“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof”, sê Ef. 2:8.
Al Paulus se briewe pleit vir ‘n lewe in en deur die geloof.
Hy is vurig hieroor, en bekommerd dat Christene dink hulle
kan op ander maniere gered word,
as net deur kinderlike en opregte geloof in die drie-enige God.
Paulus beklemtoon die wonder van God se genadige redding.
Ons is inderdaad uit genade gered!
Dit is God wat eerste sy hand van redding na ons toe uitsteek.
Dit is God wat die inisiatief neem en ons tot inkeer roep.
Ons antwoord in die geloof.
Geloof is die hand waarmee ons God se genade aangryp.
Soos die drenkeling die reddingsgordel gryp,
en daaraan vasklou om te leef!
Geloof is die kinderlike en opregte besef, en getuienis,
van my totale afhanklikheid van God se genade.
Maar, geloof is ook gehoorsaamheid!
Om te glo is ‘n daad van gehoorsaamheid.
Geloof is om God op sy woord te neem,
en sy beloftes vir jouself toe te eien. Lees dit weer!
Vir geloof soek jy nie bewyse nie.
Jy vertrou eers vir God!...en vra dan versterking vir jou geloof.
Kyk hoe het Abraham dit gedoen.
Toe die Here vir Hom die belofte van ‘n nageslag gee,
en dit volgens menslike standaarde net nie meer moontlik was nie,
het Abraham hardnekkig die Here se beloftewoord bly vertrou.
Teen logika en menslike omstandighede en verwagtinge in.
Want God het so gesê, en God bly getrou aan sy woord!
In God se oë is hierdie geloofsvertroue niks anders nie,
as ‘n daad van gehoorsaamheid aan God.
Geloof is ook gehoorsaamheid aan God.
Glo in diep afhanklikheid, al kan jy niks meer doen nie.
Hou vas aan God, al gebeur wat ookal, en sê mense wat ookal.
Ernest