Wat word bedoel met ‘n lewe in die geloof?
Beteken dit dat jy nie met realiteite rekening moet hou nie?
Paulus se brief aan die Konintiërs wys duidelik dat ‘n lewe
in die geloof nie ‘n lewensvreemde manier van lewe is nie.
Dit is ook meer as net ‘n geloofsbelydenis.
Dit is ‘n lewensstyl waarin die feit dat ek in God glo,
elke aspek van my lewe raak.
Daarom sê hy in 2 Kor. 13:5:
“Stel julleself op die proef en ondersoek julleself,
of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self
dat Christus Jesus in julle is nie?”

‘n Lewe in die geloof beteken dat ‘n mens die realiteite van die lewe –
siekte, dood, hartseer en so meer – in die oog kyk,
en met die helder wete leef dat God groter is as enige krisis,
en magtiger is as enige omstandigheid wat op jou pad kan kom.
Om in geloof te lewe beteken om die Onsienlike te sien.
Om met die lewende God self rekening te hou, die Almagtige.

Hierin moet ons mekaar help!
Rom. 15:1 sê:
“Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die
swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie..”
Ons elke dag se geloof is die dryfkrag in ons lewe.
Die vertroue dat God daar is, dat Hy sorg,
dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.
Dit is die vashou aan sy beloftes,
ten spyte van omstandighede en mense.
Hierdie geloof is by tye swakker, en by tye sterker, by ons almal.
Ons het nie elke dag ewe veel geloofskrag nie.
Daarom moet ons mekaar help in die geloof.
Ons moet mekaar ondersteun, bemoedig en vir mekaar bid.

Groei en leef in die geloof!

Ernest