Prediker 9:16,18:
“Wysheid is wel beter as krag. Wysheid is beter as wapens.”
Norton Juster skryf ‘n verhaal “Alberic the Wise”.
Alberic is ‘n jong man in ‘n klein dorpie.
Eendag kom ‘n ou wyse man in die dorp aan,
en vertel wyse verhale aan hom.
Alberic besluit om toe self te reis en wysheid te gaan soek.
Kortliks, vertel die verhaal verder hoe hy gedink het skoonheid
is die doel van wysheid, en hoe hy brandskilderkuns beoefen het.
Later dink hy skoonheid is nie alles nie, en bruikbaarheid is wysheid.
Hy bekwaam hom toe as bouer.
Nog later besef hy bruikbaarheid is nie alles nie,
en kreatiwiteit is die ware doel van wysheid.
Hy bekwaam hom toe as goudsmid.
So het Alberic van plek tot plek gegaan,
maar die wysheid het hom bly ontwyk.
Toe hy al oud was het hy in ‘n stad aangekom,
en baie wyshede met mense gedeel.
Selfs die beïndrukte koning het hom blyplek in die kasteel gegee.
Hy het die titel Alberic die Wyse gedra!
Maar ten spyte van al die lof en eer,
het hyself bly dink hy is nie wys nie.
Alberic het weereens na ‘n onbekende bestemming vertrek,
om wysheid te gaan soek.
Die fliek se tema en treflyn is uiteindelik dit:
“Dit is baie beter om te soek na iets wat ek nooit in die lewe sal hê nie,
as om dit te vind wat ek nie regtig wil hê nie.”
Ons arriveer nie in wysheid by ‘n bestemming nie.
Wysheid is nie ‘n bestemming nie, maar ‘n reis.
Dit is die lewensreis saam met die Here.
Wysheid en kennis begin met die dien van die Here.
‘n Arabiese spreuk sê:
“Hy wat nie weet nie, en nie weet dat hy nie weet nie;
Hy is dwaas, ignoreer hom.
Hy wat nie weet nie, en weet dat hy nie weet nie;
Hy is onervare, leer hom.
Hy wat weet, en nie weet dat hy weet nie;
Hy is aan die slaap, maak hom wakker.
Hy wat weet, en weet dat hy weet,
waar die Bron van wysheid is; Hy is wys! Volg hom!”
Ernest