Jakobus 3:18 sê dat wysheid van Bo
jou in die regte verhouding met God bring.
‘n Student het by ‘n wyse man gaan sit om wysheid te leer.
Die student se kop was vol vrae,
en sy frustrasies het toegeneem,
omdat die wyse man nie al sy vrae kon beantwoord nie.
“Gooi vir my tee in”, het die wyse man vir die student gesê,
“en ek sal vir jou sê wanneer jy moet ophou skink.”
Die student het geskink en geskink,
en die koppie loop later heeltemal oor, en oor die piering…
Uiteindelik roep die student uit:
“Meester, kan jy nie sien dit is vol nie!?”
Antwoord die wyse:
“En so is dit presies met jou.
Jou verstand is te vol ander dinge van jou eie belang.
Net as jy eers leeg is van jouself,
sal daar plek wees vir wysheid om in te kom.
Nou loop die wysheid maar net oor en gaan tot niet.”
Johannes die Doper se woorde was alreeds:
“Hy moet meer word en ek minder.” – Joh. 3:30.
Dit is hemelse wysheid.
Jesus wat al hoe meer in my word,
en ek al hoe minder.
Lees en oordink weer Jakobus 3:17-18:
“Maar die wysheid wat van Bo kom,
is allereers sonder bybedoelings,
en verder is dit vredeliewend, inskiklik,
bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte,
onpartydig, opreg.
Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God,
en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”
Gaan leef nou met die wysheid van Bo!
Ernest