Moses se lewe het in redelik voorspelbare bane geloop.
Totdat God aan hom verskyn het. Toe verander alles!
Ver van Egipte af het Moses met sy vrou, Sippora,
en hul seuntjies, Gersom en Eliëser, rustig saamgeleef.
Hy het kleinvee vir sy skoonpa, Hetro, opgepas.
Sy fokus was weiding en water en veiligheid vir die skape.

Toe kondig God aan dat Hy vir Moses uitgekies het,
om die onmoontlike te gaan doen!
In Eksodus 3:9-10 stel die Here dit so:
“Die noodkrete van die Israeliete het My bereik,
en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.
Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy My volk,
die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

Om die grootste gedeelte van Egipte se slawe weg te neem,
was net so onmoontlik as om nou as vreemdeling
na die owerhede te gaan, en hulle te oorreed om al die
gevangenis in ons land vry te laat,
sodat hulle agter jou aan kan trek.

Moses deins natuurlik dadelik terug. Wie van ons sou nie!
“Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag,
en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry?”
Ons sou dieselfde dink en vra!
Maar, om met God te doen te hê,
beteken om menslike grense oor te steek!
Om te leer, en te glo, en te vertrou, ver bo ons verwagtings!

Uiteindelik moet Moses kies.
Glo hy dat God in staat is om die onmoontlike te doen,
soos Hy beloof om deur hom en Aäron te doen?
Die rede waarom dinge in ons lewe dikwels nie van die grond
af kom nie, is omdat ons teen die werklikheid vaskyk.
Omdat ons teen die werklikheid vaskyk,
en die almag van God miskyk.

Moses se werklikheid is ‘n land vol slawe, en farao as die heerser.
God se werklikheid is ‘n nuwe land vol vrygemaakte mense,
met God self as Bevryder en Koning!
Ons moet, meer as wat ons ooit sou dink,
uit ons geslote werklikheid uitgaan,
en die werklikheid van die almag van God betree.
Daardie oomblik is die begin van ‘n nuwe bedeling in jou lewe!
Glo en vertrou God daarvoor!

Ernest