God gryp op soveel maniere in.
Dink maar aan die verhaal van Paulus.
God gryp hier in om menslike potensiaal vir sy koninkryk te ontsluit.
En kyk net na die rolspelers in hierdie drama van Saulus se bekering:
God. En Saulus, wat soos ‘n besetene voortgaan,
fanaties gedryf om Jesus volgelinge te vervolg.
En Ananias, die senuweeagtige volgeling van Jesus.
En dan natuurlik ons. Ek en jy.
God ken en sien elke mens, en dit wat hy of sy mee besig is.
Hy sien die ontspoorde geestelike,
die fanatikus en Skrifgeleerde, Saulus van Tarsis.
Hy sien die verwoesting wat Saulus onder die Christendom aanrig.
God ken ook die ontsaglike potensiaal van hierdie man.
Hy het hom immers self geskep. En nou is hy vyand van die kerk.
God wil hom terugbring na sy roeping vir Hom wat God is.
So is daar ook in elke mens die potensiaal wat God in jou ingeskep het.
Baie van ons het al by geleenthede die pad byster geraak hiermee.
Maar wanneer God voor ons kom staan,
soos Hy voor Paulus kom staan het op die Damaskuspad,
bied Hy vergifnis en ‘n nuwe begin vir ons aan.
En dit is die begin van die res van ons lewe.
Die oopbreek van ons ware potensiaal in God.
Die ontsluiting van ons talente en gawes deur God.
En die waagmoed, volharding en geloof wat Hy in ons laat groei.
Ananias kry nou die opdrag om Paulus te gaan bedien met die Woord.
Die “jong” Christen moet die Skrifgeleerde gaan bedien met die Woord!
Hy skram eers weg. Paulus het immers die kerk van die Here vervolg!
Maar dan oorkom hy sy vrees, in die krag van die Heilige Gees!
En ons lees in Handelinge 9:17 hoe hy voor Paulus staan:
“Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het,
toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur,
sodat jy weer kan sien, en met die Heilige Gees vervul kan word.”
Saulus, broer…..nou medegelowige in Jesus Christus!
Gestel Ananias het geweier om Paulus te gaan bedien?
God sou seker iemand anders in sy plek stuur.
Maar die punt is: God gebruik ook gehoorsame volgelinge,
om in ons lewens in te gryp. Mense soos Ananias.
Ons is ook die produk van God se ingrype op ons Damaskuspad.
Van mense soos Ananias wat in ons lewe ons kom bedien.
Ons is ook die nakomelinge en vrug van Paulus
se sendingwerk aan die heidene!
Ons is ook die produk van God se ingrype,
op unieke manier in elkeen van ons se lewens.
Daar was ook die gehoorsame volgelinge van die Here,
wat, soos Ananias, ons kom bedien het,
onder leiding van die Heilige Gees.
Kom ons gaan wees nou deel van God se ingrype,
in ander mense, met Godgegewe potensiaal, se lewens!
Ernest