Handelinge 8:29:
“Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”
Op die wa sit ‘n ontmande man van Etiopië.
Mense aan die koningshuise is dikwels ontman,
om hulle van die koning se vrouens af weg te hou.
Vyf keer lees ons dit, om te beklemtoon,
dat hierdie hoë amptenaar van Etiopië ‘n ontmande was!
Terug dus by die Ou Testament, as jy soos Petrus sou wou dink,
oor wat heilig of onheilig is… en met wie om te meng of nie.
En hoe maklik kan ons nie ook vasval nie,
in ons eie seksuele vooroordele nie.
Kyk wat sê die Ou Testament oor ‘n ontmande:
“Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is, of iemand wat ontman is,
mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.” – Deut. 23:1.
Vers 2 is nog harder t.o.v. seksuele vooroordele:
“Niemand wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap,
mag lid van die gemeente word nie,
selfs nie so ‘n persoon se tiende nageslag nie.”
Hoe sou ons nie, met ons vooroordele,
hiermee mense kon insluit of uitsluit nie!

Maar reeds in Jesaja 56:3-5 en 7 gee God ‘n Messiaanse profesie,
deur Jesaja, aan die mensdom:
“’n Ontmande moenie van homself dink :
ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here:
Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou,
wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond,
aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee,
‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters.
Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed,
hulle brandoffers, hulle offers op my altaar,
sal vir My aanneeemlik wees.”

Hierdie Messiaanse belofte is vervul in die koms van Christus!
In Handelinge 8 word hierdie belofte ook “sigbaar” vervul!
Filippus kry die opdrag van die Here om met ‘n ontmande te gaan praat.
Hy moet God se genade aan ‘n ontmande gaan verkondig en betoon!
Hy moet aan iemand, so “anders”, met wie nie graag gemeng is nie,
God se ontferming gaan verkondig.
God diskrimineer eenvoudig in Christus teen niemand nie!
God trek niemand voor nie.
Filippus is gered, gesalf, en geroep.
Maar in God se oë is hy nie meer waardevol of van beter kwaliteit,
as die ontmande van Etiopië nie.

“Die genade van God wat verlossing bring,
het immers aan alle mense verskyn.” – Tit. 2:11.
Filippus gaan sit langs die mens van Etiopië.
Want God gee om vir hierdie mens.
En Filippus lê die Woord vir hom uit.
Hy doen dit onder leiding van die Heilige Gees.
Hy doop hom, en hy sien hom verder reis na Afrika.
En in die wese van hierdie man van Afrika,
is die blydskap wat van God kom,
in Christus, deur die Gees!

Gaan loop saam met mense…sê God vir ons.
Gaan loop, sonder vooroordeel, saam met mense.

Ernest