Moenie dink jy kan nie iets vir die Here doen wat Hy vra nie.
Die Here sal nie iets van jou vra,
sonder om dit ook vir jou moontlik te maak om dit te doen nie.
Dink maar aan Jeremia, Moses en Jesaja.
Al drie het hierdie een ding in gemeen,
wat hulle dink hulle nié vir die Here kan doen nie:
Die oortuiging dat hulle nie vir die Here kan praat nie.
“Ek kan nie praat nie”, sê al drie vir die Here.

Jeremia voel hy is te jonk om as profeet op te tree.
Maar God gebruik veral ook jongmense!
God sê vir Jeremia, en almal van ons wat Hom dien:
“Jy moet gaan na wie toe Ek jou ookal stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.”
Verder sê God: “Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou, Ek sal jou red.”
Vir Jeremia sê God verder:
“Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke,
om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan,
te bou en te vestig.”

Dieselfde God gee aan Moses en Jeremia
twee wyd uiteenlopende opdragte.
Moses moes die volk uit slawerny lei.
Jeremia moes die volk voorberei op slawerny!
Moses word uitgestuur om te gaan bou aan die volk,
aan samehorigheid, gehoorsaamheid, geloofsvertroue.
Jeremia moet aankondig dat die volk ineen gaan stort!
Genadiglik kon Jeremia ook profeteer dat die volk weer sou opstaan.

Wanneer God ons met sy boodskap stuur moet ons gaan en dit dra.
Hoe moeilik dit ookal is, ons moenie sê dat ons nie kan nie.
Ons moet vir die mense sê wat Hy sê…

Ernest