Baie keer dink ons dat ons op die regte pad is, maar ons is alleen…
Ons dink selfs dat nog net ons oorgebly het op hierdie pad…!
Dit was ook die geval met Elia.
Die Here gebruik dan ook sy beproewings om hom sterk te maak,
en hom te laat omdraai!
Elia ervaar teenstand en aanvegtings.
Martin Luther het gesê dit is só nodig vir ons geloofsgroei.
Die groot profeet gaan lê ingekrimp onder ‘n besembos.
“Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe.”
Moses het iets soortgelyks vir die Here gesê.
“As U so met my wil maak, laat my dan maar liewer sterwe.”
Maar God laat Hom nie daardeur manipuleer nie….
“Word wakker! Eet!”, sê Hy vir Elia.
“Anders sal die pad vir jou te lank word”
Elia gaan lê. Maar God se pad vir hom is nog lank.
Elia hoop op die dood.
Maar uiteindelik staan hy in ‘n grot waar God vir hom vra:
“Wat maak jy hier, Elia?”
Dikwels moet die Here ook vir ons vra: Wat maak jy hier!?
Elia het gedink nog net hy dien die Here….!
Die damwal breek as hy vir God sê:
“Ek het my met hart en siel gewy aan U saak,
Here, almagtige God.”
Hy bedoel: Here, ek kan nie meer nie.
Niks werk meer uit nie.
Die Israeliete het die verbond gebreek.
Hulle het God se altare afgebreek.
Hulle het God se profete doodgemaak.
En dan sê Elia:
“Net ek alleen het oorgebly,
en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
Dit is chaos in die land. En net Elia bly oor….
Of is dit…? Het net hy oorgebly…?
Hang alles net van hom af…?
God sê vir hom in 1 Kon.19:15-16:
“Draai in jou spore om. Vir Elisa, seun van Safat,
uit Abel-Megola, moet jy salf tot profeet om jou op te volg”
Die Here se werk gaan voort. Die Here gaan voort!
Draai in jou spore om en gaan doen wat die Here vra!
Wanneer jy moedeloos dink dat jy nou aan die einde gekom het,
en alleen staan vir dit wat jy glo reg is,
is die Here daar en gaan Hy voort deur jou, en nog lank ná jou!
Ernest