Christene gaan nie deur die lewe met ‘n
“ekskuus dat ek lewe” mentaliteit nie.
Ons volg nie ‘n jellievis leefstyl sonder standpunte nie.
Ons probeer nie heeltyd oulik wees en “alles is maar reg” nie.
Ons loop ook nie soos hansworse rond met kunsmatige glimlagte nie.
Nee, Christelike verhoudings beteken dat ons pro-kreatief daar is,
vir ander mense. Dit vra dat ons sensitief is vir mens se nood.
Dit vra ook dat ons ons gawes tot hulle opbou sal aanwend.
Na beide kante toe behoort ons meer heel te word,
as ons in ander mense se geselskap is. Ons groei ook.
Opbou is nooit net eenrigting verkeer nie.
Wanneer ons in ander mense se lewens belê,
moet ons ook oop wees vir hulle opbou van ons lewens.
Paulus beskryf hierdie geestelike wisselwerking in Romeine 1.
Hy is op pad na Rome om die gelowiges daar te bedien.
Romeine 11:1:
“Ek sien baie daarna uit om julle te besoek,
want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra,
om julle te versterk.”
Maar hy kom ook na Rome om te ontvang.
Hy kom ook doelbewus na hulle om deur hulle opgebou te word.
Nie een van ons is op ons eie die groot antwoord nie.
Ons het mekaar broodnodig.
Ons is altyd deel van die liggaam van Christus.
Ons moet gedurig die grens na medegelowiges oorsteek,
juis om mekaar op te bou.
Daarom leef ons nie ‘n “ekskuus dat ek lewe” leefstyl nie.
Die Here stuur ons na ander om hulle te vorm,
en om self gevorm te word.
Ons gaan as gestuurdes van God!
Daarom het ons ook nie ‘n jellievis leefstyl nie.
Ons help mekaar ook deur teregwysing! Vermaning.
Alles is nie altyd maar reg nie.
Wanneer ons so saam leef,
met liefde en begrip, en teregwysing van mekaar,
word die gemeente en die kerk die gesonde liggaam van Christus!
Daarom skry Paulus ook op ‘n ander plek
dat die liefde nie kleinserig is nie.
Ernest