Die geheim van kind van God wees is om nou reeds die nuwe lewe te leef!
God se wil speel dikwels anders af as wat ons dink of verwag.
Maar te midde van dit alles is ons reisgids se opskrif die van Handelinge 17:7.
Daar word die beskuldiging teen die Christene van Tessalonika ingebring
dat hulle die wêreld omkeer!!
Leef voluit vir die Here en síén hoe dit gebeur!

Jesus se woorde in Markus 10:42-45 is ook ons rigsnoer. Lees dit!
Hy sê dat die grootheid in sy kring gepaardgaan met egte kleinheid!
Die wêreld kan dít natuurlik nie “kleinkry” nie!
Die wêreld floreer as’t ware op grootheidswaan!
Maar Jesus se nuwe helde is die wat geleer het om ander te dien,
en om agter te staan in die ry van die lewe.

Alles keer onderstebo wanneer ons God se koninkryk betree.
Hier is die sterkstes juis die swakstes.
En die grootste die kleintjies.
En die onbelangrikes die belangrikste.
Die koninkryk van God is vir die wêreld ‘n vreemde wêreld,
waarin ander mense in verwondering staan,
oor Jesus se mense wat radikaal nuut en anders leef.

En ons word net deel van hierdie nuwe lewe en wêreld,
wanneer daar in ons ‘n hartgrondige-kopgrondige bekering plaasvind!
Het dit al met jou gebeur,….in jou gebeur?

Eers wanneer ons die Here toegelaat het om ons harte om te keer,
om ons denke te vernuwe, soos Romeine 12:1-2 sê,
om ons oë, ja al ons sintuie, nuut in te stel, sal dit gebeur.
Ons klipharte moet vervang word met Gees geskepte vleesharte.
Die profeet Esegiël sê dit al eeue terug!
Indien ons nie die Gees toelaat om dit te doen nie,
en die Heilige Gees weerstaan,
staan ons geen kans om nuut te leef,
en te dink, en te dien in God se koninkryk nie!

Ernest