Jakobus 2:14:
“Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo,
maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”

God se hemelse wil moet mos nou deur ons,
wat nuut leef in die nuwe wêreld van God,
grondvat in hierdie wêreld!
Tog sukkel ons om dit uitgeleef te kry in ons daaglikse lewe.
Hoekom is dit so?

Bybel-onkunde is dalk een oorsaak.
Vir baie van ons is die Bybel ‘n vreemde onbekende boek.
Ons ken so paar bekende en gewilde tekste,
maar die Bybel ontvang net so nou en dan ‘n besoek van ons af,
byna soos die huisbesoek van die leraar waaroor ons kla…
Ons kla oor sy besoeke, maar besoek nie self die Here nie!
Want om die Bybel te lees,
is om by die Here se voete te sit,
te luister, en te gaan doen!!

Dalk is die probleem meer diepliggend.
Ons onbekendheid met die Bybel word ‘n rookskerm.
Die Christen-filosoof, Soren Kierkegaard,
het gesê die Bybel is inderdaad maklik om te verstaan,
vir elkeen wat regtig wil!
Ons maak maar net of die Woord baie moeilik is,
want ons weet alte goed,
as ons dit verstaan moet ons dit lééf!
Daarom is dit gerieflik om onkundig te pleit…

Die beste nuus van dit alles is die volgende:
Die Outeur van die Woord is elke keer aanwesig!
Elke keer wat jy dit lees kom God self aan die woord.
En Hy steek nie waarhede weg nie.
God gee sy wil helder en duidelik deur vir ons!
Want God begeer dat ons dit sal uitleef in gehoorsaamheid!
Die Heilige Gees is ook aan ons gegee,
juis om ons te lei in die waarheid!
Die oomblik as ons die Woord van God lees,
is dit die geval dat ons dit nou moet gaan doen!
En daar is soveel wat ons verstaan, en weet wat om te doen,
dat ons geen verskonings het oor die dele wat ons “nie verstaan nie”.

So sal God se wil ‘n daaglikse realiteit in jou lewe word.
Deur dit eenvoudig voluit te doen en uit te leef!
Hoor en doen. Hoor en doen. Hoor en doen….
Dit is die ritme van die lewe vir die Here!

Ernest