Spreuke 23:9 gee ‘n belangrike riglyn,
veral ten opsigte van verhoudings:
“Moenie ‘n dwaas probeer reghelp nie;
hy sal jou verstandige raad met minagting behandel.”
Vir party mense doen jy altyd te min.
Maak nie saak hoeveel jy vir hulle omgee,
bid, besoek, help of bystaan nie – dit is altyd te min.
Hulle vestig al die aandag op hulle,
en hou selfs mense gevange deur hulle skuldig te laat voel.
Maak ‘n doelbewuste en sinvolle verskil in mense se lewens.
Doen dit in die Here se Naam en opreg.
Hier is net ‘n paar riglyne:
Eerstens, leef proaktief.
Moenie van vroeg tot laat op alles en almal om jou reageer nie.
Jy kan dit nie sinvol volhou nie. Dan leef jy reaktief.
Dan is jy kort voor lank ‘n emosionele gevangene,
van jou eie omstandighede en van ander.
Leef eerder proaktief uit God se Woord.
Onderskei wat die Here wil hê.
Weet wat reg is voor God en rig jou verhoudings daarvolgens in.
Kies om opbouend en dienend in verhoudins te leef,
sonder om deur mense gemanipuleer te word.
Moenie dat mense se “hang-ups” jou gevange hou nie.
Galasiërs 6 leer ons om mekaar se laste te dra,
nie mekaar se “issues” nie.
Met die grootste liefde en opregtheid gesê:
Mense kan regtig “toksies” wees.
Maak jou emosioneel los van gevaarlike en destruktiewe mense.
Ons kan nie elke dag noodwendig fisies uit hul pad kom nie.
Wees daarom hoflik, maar wees versigtig vir hulle.
Lees weer bogenoemde teks.
Moenie mense wat jou leed aandoen probeer terugkry nie.
Vergewe hulle en gee dit met gebed oor in die hande van God.
Hy het ons vrygemaak van “’n oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand”.
Moenie saampraat met die wraakgieriges om jou nie,
al wil jy nie self wraak neem nie.
Dit is werklik nie tot God se eer nie.
Sê gereeld vir mense dankie.
Gee opregte komplimente en erkenning.
Leef met ‘n dankbaarheid wat opreg is.
Skep daarom gesonde verhoudings.
Laat jou teenwoordigheid vir mense ‘n seën wees.
Rig jou verhoudings volgens hierdie paar riglyne,
sodat dwase mense, Spreuke 23:9,
nie jou verstandige raad en opregte bedoelings minag nie.
Ernest