Ons leef tussen baie mense wat ontwortel is.
Mense wat werklik baie swaar kry.
In sy boek, “Lifesigns”, verwoord Henry Nouwen
die groot lyding van ons tyd met die woord “homeless”.
Dit is veel meer as om net dakloos te wees.
Die Afrikaanse woord wat dit die beste sê is “ontworteld”.
Dit is mense wat nêrens tuishoort nie….
Dit is om niks of niemand rondom jou te hê,
waar jy veilig en geborge voel nie.
Ons het nie ‘n idee hoe stukkend en alleen mense is nie.
Mense wat nooit geliefd en versorg is nie.
Mense wat smag na liefde en iemand wat hulle raaksien.
Ons kan nie altyd langtermyn of diepliggend by sulke mense
betrokke raak nie, as gevolg van baie redes en omstandighede.
Maar ‘n hoflike en opregte glimlag kan ‘n groot betekenis
vir sulke mense hê.
En ligte en opregte humor ook.
Ligte humor is dikwels ‘n manier om God se liefde,
op ‘n eenvoudige manier, verder aan te gee.
Dikwels word hierdie mense met ‘n vuil kyk en
onverdraagsaamhied behandel, juis om hulle “weg te hou”.
Ons kan werklik mense met hoflikheid en respek behandel,
maak nie saak wie hulle is nie!
“Small-talk”, kan ons dink,
sonder om te besef hoeveel dit vir hulle beteken.
Ons kan met ‘n opregte glimlag en ligte humor vir mense
soos die petroljoggie, die tuinwerker, die huishulp,
die man op die hoek van die straat wat werk soek, die karwag,
die bedelaar, en vele ander, meer beteken as wat ons dink.
En dit kos ons niks!
Maar, ook vir hulle het dit die Here alles gekos, aan die kruis!
Ernest