Geloof ry nie altyd teerpad nie.
Geloof is nie altyd “plain-sailing” nie.
Die pad kan baie rof raak, en die water stormagtig.
Geen wonder Paulus skryf in 2 Kor. 6:5 hieroor nie:
“Ons is geslaan, in die tronk gegooi, en het in oproere beland;
ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak,
en honger gely.”
Deur die eeue het die kerk van die Here nie swaarkry vrygespring nie.
Die kerkgeskiedenis is ook geskryf met die bloed van martelare.
Ons in die moderne tye leef meer gemaklik,
maar in baie lande is nog erge vervolging van Christene.
Ons “gemaklike godsdiens” het ook sy tol geëis.
Mense het begin dink God moet hulle op die pad van voorspoed hou.
Daar het selfs ‘n welvaartsteologie ontstaan.
God moet selfs die regte fabrikaat en kleur voorsien!
Die Bybel praat ‘n ander taal oor geloof.
Nêrens beloof God net ‘n gelyk pad aan gelowiges nie,
sonder hindernisse of probleme of krisisse nie.
Die Bybel sê juis dat ons dit ook moeilik sal hê.
Ons word soos skape onder die wolwe ingestuur, sê Jesus.
Openbaring 6 en 13 sê gelowiges sal doodgemaak word,
ter wille van hulle geloof.
Geloof is nie ‘n “sagte opsie” nie.
Dit vra groot moed om aan die Here Jesus se kant te staan.
Dit vra moed om saam met hom ook die opdraande paaie te loop.
Mense vra dan maklik: “Straf God my nou?”
“Is God regtig ‘n God van liefde?”
Feit is dat God nooit sy kinders wat ly in die steek laat nie.
Die Bybel is vol voorbeelde en beloftes van God daaroor.
In 2 Kor. 6:2 skryf Paulus dat die dag van redding altyd hier is.
Moenie opstandig raak oor swaarkry in jou lewe nie.
Terugslae is nie straf van God nie.
God het nie witbroodjies wat Hy in watte toerol,
en sonder stampe of stote hemel toe dra nie.
God gee aan elkeen van ons ‘n roeping ter wille van sy koninkryk.
Ook Jesus het met sy lewe daarvoor betaal.
Paulus moes baie ontberinge verduur ter wille van sy geloof.
Ons moet ook ons hele lewe gee as lewende en heilige offer.
God is tree vir tree by ons!
Ernest