In 2 Kor. 4:8 skryf Paulus dat hy ook raadop raak,
en dat hy nie aldag weet hoe om in elke situasie op te tree nie.
In 2 Kor. 10:10 skryf hy dat ‘n gerug versprei word,
dat sy briewe te streng is, dat sy persoonlike optrede flou is,
en dat sy woorde eintlik niks beteken nie.
In 2 Kor. 13:3 sê Paulus dat die gemeente ‘n bewys soek
dat Christus wel deur hom praat,
omdat hulle sy geloof bevraagteken!
Paulus se eie bediening en omstandighede is
alles behalwe net rooskleurig.
Paulus het meestal met die gemeente van Korinte
‘n troebel verhouding, veral omdat van die lede alreeds
‘n probleem met sy eerste brief gehad het.
Dit het ‘n groot geveg geraak waarin Paulus se naam skade ly,
deur valse leraars wat sy naam sleg maak – 2 Kor. 10-13.
Paulus verduur stampe en stote van medegelowiges!
En ook fisiese swaarkry van ongelowiges,
wat hom in die tronk gooi, gesel, stenig en met minagting behandel.
In 2 Kor. 1:9 skryf hy selfs dat hy op ‘n punt
alle moed om te bly lewe laat vaar het.
Wat doen Paulus in hierdie swaarkry?
Kom ons leer daaruit:
Hy gaan soek hulp buite homself.
Hy leer om van homself af weg te kyk.
Hy weet dat hy dit nie alleen sal maak nie.
Hy plaas al sy hoop op God!
Hy weet dat sy God oor letterlik alles beskik, ook lewe en dood.
Dat Christus die sleutels van die dood en doderyk vashou.
Daarom skryf hy later aan die jong Timoteus dat hy
die goeie wedloop voltooi het,
en dat die ewige lewe by Christus vir hom wag.
Hy weet ook dat sy God die onmoontlike kan doen,
en hom uit doodsgevaar kan red.
Swaarkry kom oor jou pad.
Sien dit uit die regte perspektief.
Lyding opsigself sal jou nooit van God skei nie.
Romeine 8:35 bevestig dit.
Hy bly altyd by jou en sal jou nooit in die steek laat nie.
Moenie in moeilike omstandighede hoop verloor nie.
Bly vertrou op God.
Jou lewe is in sy hand.
Weet dit in sonskyn dae, en in donker dae.
Ernest