Bybelfigure is nie superwesens nie.
Moses, Abraham, Petrus, Paulus,….
almal gewone mense soos ons wat worstel soos ons.
Hulle het ook gebewe wanneer hulle rotsvas moes staan.
Petrus, wat onverskrokke voor die Joodse Raad getuig,
huigel ‘n paar jaar later toe hy hom aan die Christene
van heidense afkoms onttrek ter wille van sy
goeie verhouding met Joodse gelowiges.
Paulus kry ook die wind van voor in sy geloof.
Uit desperaatheid het hy na God toe gegaan,
en Hom gesmeek om ‘n einde te maak daaraan.
Hy het drie maal ernstig tot God gebid,
om tog die doring uit sy vlees te verwyder.
Maar God het ‘n ander plan met Paulus se swaarkry.
Die swaarkry op sy pad is ook om hom te weerhou
van hoogmoed as kind van die Here.
Om te keer dat Paulus oor sy geestelike ervarings
saam met God sou begin spog en te veel van homself dink,
het God ‘n doring in sy vlees geplaas.
Dit moes hom leer om volledig afhanklik van God te leef,
en hom op sy knieë hou.
2 Kor. 12:7-9:
“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie,
is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee…
Drie maal het ek die Here gebid
dat dit van my af weggeneem moet word.
Sy antwoord aan my was:
“My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Daarom sal ek baie liewer op my swakhede roem,
sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
God plaas nie dorings in ons vlees om ons te pynig nie,
maar om die fokus weg van onsself af te skuif, na God toe!
Swaarkry leer ons gou om verby uiterlike dinge
soos sukses en voorspoed te kyk.
God is in lyding en swaarkry aan die werk.
God is daar waar die wind erg van voor is in ons geloof.
Dit kan juis goed gaan wanneer God deur
swaarkry in gelowiges werk.
Dit gaan nie vir God oor ons gerief nie,
maar oor ons karakter wat Hy bou.
Daarom kon Paulus sê dat wanneer hy swak is,
hy juis op sy sterkste is!
Dan werk God in en deur jou,
en is dit nie jou eie krag en vermoeë nie.
Ons moenie vra waarom ons swaarkry nie,
maar eerder hoe God sy doel daardeur wil bereik
God sê vir ons:
“My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Ernest