Nie so maklik vir ons nie..…om tevrede te lewe.
Ons kla graag om elke hoek en draai.
Ons het ook die gebruik wanneer ons groet om te sê:
“Kan nie kla nie…” Ons spog amper met klaery.

Paulus het baie redes gehad om te kla.
Sy swaarkry het dikwels sy lewe op die spel geplaas!
Ons swaarkry plaas ons gerief op die spel…
Maar Paulus se swaarkry het hom ‘n God-gegewe les geleer.
Wees altyd met jou omstandighede tevrede.
Hy sê in Filippense 4:12-13:
“Ek weet wat armoede is, en ek weet wat oorvloed is;
van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet,
sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê,
sowel as om gebrek te ly.
Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Daar is ‘n verskil tussen om te kla oor voedselpryse,
en om nie kos te hê nie.
Hoë mediese premies, of geen medies nie.
‘n Ou motor, of geen vervoer nie.
‘n Ou of te groot huis, of geen huis nie…

Paulus bedoel nie in Filippense dat hierdie geloof
‘n susmiddel is, soos Karl Marx gesê het nie.
Geloof is nie ‘n susmiddel wat jou blind maak
vir lyding, en harde werklikheid, en swaarkry nie.
Hy wil net sê dat die sin van die lewe nie afhang
van gunstige omstandighede nie.
God is nie net in gunstige omstandighede
teenwoordig of aan die werk nie.
Geloof is om in die voetspore van Christus te loop,
op gelykpaaie, en opdraandes, en afdraandes.
Die Gids wat die pad aandui is belangriker as die pad.
Hou jou oog op die Gids van die lewenspad,
eerder as op die roete.
Hy is met jou op pad na sý bestemming.

Ernest